Video: Katgeveg na luggeweer skoot humeure laat opvlam

Daar is 'n verrassende kinkel in die katgeveg tussen twee plaaslike vroue in Kogelstraat verlede Woensdag, na 'n skietvoorval met 'n luggeweer waarby 'n bekende verhoorafwagtende betrokke was.

Die beskuldigde in die botsing gedurende die 2011 HTS Rooi Trek geesvangaand, mnr. Elias Nzimande, staan tereg op klagtes van roekeloos/nalatige bestuur, dronkbestuur, poging tot moord, die verontagsaming van verkeersbevele en poging om te vlug van ‘n ongelukstoneel.

Hy was glo die oorsaak van die katgeveg Woensdag tussen me. Ans Chambeau, ‘n sakevrou, en me. Sorina Klynhout, ‘n plaaslike huuragent vir wie Nzimande werk.

Oor en weer aanrandingsklagtes sal nou gelê word, nadat vier tienerseuns glo verlede week op Nzimande met ‘n luggeweer geskiet het, vanuit me. Chambeau se erf in Kogelstraat.

Nzimande was die bestuurder van die Uno wat in September 2011, tydens Hoër Tegnies Middelburg se geesvangaand, die Rooi Trek, tussen leerlinge ingejaag het, nadat hy ‘n verkeersman se opdrag om te stop, verontagsaam het.

Vier seuns is ernstig in die daaropvolgende botsing beseer.

Nzimande het na bewering probeer wegjaag, maar is verskeie blokke verder deur ‘n groep verkeersmanne gearresteer.

Me. Chambeau sê haar 16-jarige seun was alleen tuis, en drie ander seuns, waarvan een aan haar onbekend is, het die middag by hom gaan kuier.

Sy sê die onbekende seun het glo opgedaag met ‘n luggeweer, wat na bewering gebruik is om ‘n skoot op Nzimande, wat in die straat verby haar huis geloop het, af te vuur.

Mnr. Nzimande wie nie beseer is nie, is na bewering teen die pet getref, waarna hy en me. Chambeau se seun in ‘n argument betrokke geraak het.

Me. Chambeau was kort na die skietvoorval tuis, waar sy haar seun in gesprek met Nzimande aangetref het.

Die ander seuns het glo weggehardloop, en haar seun alleen agter gelaat om die woendende Nzimande te probeer kalmeer.

“Toe ek opdaag het mnr. Nzimande my stormgeloop en ek het vir hom gesê dat ek net my motor by die oprit wou intrek, en dat hy buite vir my moet wag,” sê me. Chambeau.

Intussen het sy haar seun by die huis ingestuur, en na die hek geloop om te hoor wat aangaan.

“Dis toe dat sy werkgewer, me. Sorina Klynhout, skielik aangejaag kom en ‘n hewige onderonsie aan die gang gesit het,” sê me. Chambeau, wat Donderdag ‘n aanrandingsklag teen me. Klynhout aanhangig gemaak het.

“Ek het die hele woordewisseling op my selfoon afgeneem, en wou by mnr. Nzimande weet waar hy beseer is, en hoe hy verseker weet dit was my seun wat hom geskiet het, maar die volgende oomblik was die gort gaar,” vertel me. Chambeau.

Me. Klynhout het glo haar foon gegryp en op die grond neergegooi, waarna me. Chambeau me Klynhout weer aan die hare beetgekry het.

‘n Struweling het ontstaan en me. Chambeau sê dat me. Klynhout, wat hoëhaakskoene aangehad het, oor haar eie voete gestruikel het.

Me. Klynhout en mnr. Nzimande is hierna vort, en me. Klynhout het Maandag bevestig, dat sy nie gedink het die storie sal so uit verband geruk word nie.

“Al wat Elias gevra het was ‘n verskoning, maar dit is nooit aangebied nie, hy is inteendeel sleggesê,” kap me. Klynhout terug.

Beide sy en mnr. Nzimande sou Maandag, op aandrang van hul regsverteenwoordigers, teenklagte teen die ma en seun gaan lê.

Mnr. Nzimande se verhoor met betrekking tot die Rooi Trek botsing, skop in Maart in die streekhof af.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button