Seun (7) moes glo seksvideos kyk
Daar is Woensdag in die streekhof getuig hoedat 'n sewejarige seuntjie moes toekyk hoedat sy ma satanistiese rituele uitvoer en seksvideos van haar moes kyk.

Dit was deel van skokkende getuienis wat in die hof vir seksuele misdrywe aangehoor is. ‘n Ma en haar neef (beide se name word weerhou om die kinders te beskerm) word aangekla op verskeie klagtes onder die seksuele misdrywewet.
Die kind (wat op daardie stadium sewe jaar oud was) en sy ouer sussie (wat 12 jaar oud was) het in September 2010 vertel wat gebeur het en het die biologiese ma sedertdien geen kontak met die kinders nie.
Die verhoor het in November verlede jaar begin met getuienis deur die pa. Hy het onder meer gesê dat sy seuntjie verkrag is en dat daar ook “demoniese manifestasies” in sy huis plaasgevind het.
Die stiefma se getuienis het almal in die hofsaal laat regop sit, want sy het, soos die pa, vertel dat die kinders aannames gemaak het van onder meer sataniese rituele en “iets” wat geluide maak en die dogters beseer het by hul huis.
Die kinders was onder die sorg van hul pa. Elke keer as die kinders egter na ‘n naweek tuisgekom het, het die stiefma agtergekom daar is fout.
“Hy het elke keer as hy terugkom gesê dat sy anus verskriklik seer was. As ek gevra het wat is fout, het hy net gesê hy is hardlywig en gevra dat ek boudroom daarop moes sit. Dit was egter bloederig en stukkend.”
Sy het haar kommer met ‘n maatskaplike werker gedeel, wat vir haar gesê het dat “as die kind nie wil praat nie, daar niks is wat ons kan doen nie.”
Die seun het ook nagmerries gekry en ontstellende gedragsprobleme gehad, wat onder andere insluit:
• Hy het stokke in hul troeteldiere, ‘n haas en drie honde, se anusse opgedruk en ‘n voëltjie met ‘n braaivurk gesteek totdat hy bloei en ‘n vis gedruk dat sy oë uitspring.
• Hy het ontlasting teen die mure en op handdoeke gesmeer en urineer op die vloer.
• Hy het probeer om gom te snuif, deur dit op papier te smeer en daaraan te ruik.
• Nadat hy moerbeiblare gedroog het, het hy dit in toiletpapier gedraai en probeer rook. Toe hy daaroor gekonfronteer word, was sy woorde aan die stiefma: “my ma sê ek kan.”
• Hulle het agtergekom dat hy in die nagte rondloop en die dogters probeer betas.
• Hy het haar (stiefma) gevra waarom sy nie naak rondloop nie, want sy “ma doen dit dan”.
• Wat hulle egter die meeste ontstel het, is dat hy gebruikte sanitêre doekies uit die asblik gehaal en daaraan gelek het.
“Vir drie jaar het hy nooit iets gesê nie tot die aand van 9 September 2010.”
Die seun het haar hand gevat en met haar na die kamer gestap waar hy verskeie skokkende bewerings gemaak het.”Ek het so gehuil dat ek hom nie kon antwoord nie.”
Daar is aan haar vertel dat sy ma hom vasgehou het en dat “die oom” (sy ma se neef) iets hard in sy anus ingedruk het.
Hy het gesê dat sy ma soms kerse om hom gepak het, dan kaal gedans en snaakse geluide gemaak het. Hy het ook beweer dat sy bloed gedrink het.
Sy sussie het kort hierna soortgelyke bewerings gemaak. Háár weergawe aan die stiefma was dat sy (die kind) honde en katte wat haar ma by bure gesteel het, moes help slag en dan uitdruk om bloed te kry. As hulle al die bloed uitgedruk het, moes die seuntjie en sy sussie die karkasse in die erf gaan begrawe.
Die kinders het na bewering ook gesê dat die ma haar seksuele avonture (met tot soms twee mans op ‘n slag), afgeneem het en as hulle by haar kom kuier het, gedwing het om daarna te kyk. Daar is gesê dat die seun ook na ander pornografiese materiaal en boeke by haar kon kyk.
Op die vraag waarom hulle nooit vertel het dat dit gebeur het nie, het beide kinders vir haar gesê dat hul ma hul gedreig het dat as hulle sou praat, sy hulle “met ‘n byl sou opkap”.
Die egpaar het dit die volgende dag by die polisie gaan aanmeld.
Hierna het daar skielik vreemde dinge in die huis begin gebeur.
Die stiefma het in haar getuienis dit die hele tyd “iets” genoem. Die dogters se beddens het in die aande begin skud en hulle het vreemde gil- en roggelgeluide gehoor. “Géén mens kan daardie geluid maak nie!”
Dit het só erg geraak dat een van die dogters een oggend met erge krapmerke, soos wat gemaak word met skerp naels, op haar kop gehad het.
Selfs in die dag het vreemde goed gebeur. “Die radio het van sy stasie af gegaan en dan het die snaakse geluide begin. Dit het gelyk of die seun die geluide verstaan en met hulle kan praat.”
• Toe dinge te erg word, het die pa en kinders geestelike berading eers by plaaslike leraars en later ook by ‘n sendingstasie gekry.
• ‘n Kenner in die okkulte het intussen (in 2013) met die seun gewerk.
• Na haar getuienis vir die staat, is begin met kruisondervraging deur die verdediging, wat volgende week voortgesit sal word.
• Die verhoor behoort teen 4 Junie afgehandel te wees. Op die getuienislys tot dan, is onder andere die kinders en die okkultiese kenner (wat uit die aard van sy werk gevra het om anoniem te bly).
• Me. Lizel Herbst kla aan vir die staat en mnr. Deon Minnie is die voor-sittende beampte.
• Mnr. Bertus le Roux (oud-streekhof-landdros) tree op vir die ma se neef.
• ‘n Lid van die regshulpraad (wat gevra het om anoniem te bly) tree op vir die ma.