Opvolg: Dit reën geld
'n Ooggetuie het vertel hoe twee luukse viertrek voertuie Dinsdagoggend 'n Fidelity Guards voertuig van die pad af gedwing en met dinamiet oopgeskiet het op die Stoffbergpad naby die Bothasbergpas.
Die man, wat om sekuriteitsredes nie sy identiteit bekend wil maak nie, sê dat hy saam met ‘n groep ander mans oppad werk toe was. Hulle het in die veld langs die Stoffberg teerpad gery, toe hulle geweerskote gehoor het.
“Toe ons weer sien toe kom twee wagte met die teerpad aangehardloop in Middelburg se rigting.”
Hulle het gestop om te kyk wat aangaan. In die teerpad, minder as 100m van waar hulle gestaan het, het ‘n steenkoolkleurige Nissan Navara, asook ‘n silver BMW X3 by ‘n Toyota bakkie met Fidelity kentekens op, gestaan. Die Fidelity voertuig was in die aankomende baan.
Terwyl die mans na die petalje staan en kyk het, het die wagte vertel dat hulle deur twee voertuie ingejaag is en dat rowers hul bande stukkend geskiet het om hul tot stilstand te dwing. Hulle is beveel om van die toneel af te vlug, nadat hul vuurwapens en selfone afgeneem is.
‘n Vragmotor het van Middelburg se rigting op die toneel aangekom. Rowers het die bestuurder voorgekeer en hom opdrag gegee om dwars oor albei bane te trek. Hulle was tot die tande toe gewapen.
Verkeer wat opgedam het, het vermoedelik gedink dit is ‘n ongeluk en probeer om die vragmotor op die grond langs die pad verby te steek. Hulle is met automatiese vuurwapens tot stilstand gedwing. Sommige kon daarin slaag om ‘n u-draai te maak en te vlug, terwyl ander motoriste vreesbevange sit en toekyk het.
Terwyl van die rowers, met vermoedelik AK47 gewere gewapen, motoriste gedreig het, het ander die Fidelity voertuig met dinamiet oopgeskiet.
“Ons het nie geweet hulle gaan dinamiet skiet nie. Toe ons weer sien toe is daar ‘n helse slag en die hele wêreld trek vol geld. Dit het soos ‘n fontein van geld gelyk. Ek dink die ou wat die dinamiet geskiet het, het hom bietjie misgis met die hoeveelheid want hy het baie van die geld beskadig.”
In ‘n kwessie van 15 minute was die hele rooftog oor en het die rowers van die toneel weggejaag. Drie gewapende rowers het agter op die Navara se bak gestaan.
“Toe begin die mense uit hul karre klim en geld optel. Ek het vir my werkers gesê ‘Julle tel nie ‘n sent op nie, dis nie ons geld daai nie,'” vertel die man.
Nuusflits: Geld oor pad gesaai
Sy werkers het op versoek van die sekuriteitswagte begin om die geld met besems en harke bymekaar te skraap.
‘n Lid van die polisie het later vertel dat hulle nie die voertuig kon injaag nie, omdat die rowers agterop op hulle geskiet het as hulle te naby kom. ‘n Helikopter het ook later aan die soektog deelgeneem.
Toe die groep ooggetuies die eerste maal agter kom daar is fout, het hulle die Laersdrift polisiestasie gebel.
“Hulle kon ons nie verstaan nie. Ons het vir hulle in Engels verduidelik dat daar ‘n hi-jacking on the Stoffberg Road near the Poolzee School was, maar hulle wou weet of die roof op ‘n plaas gebeur het. Daarna het hulle gesê dat dit nog te vroeg is en dat die polisiemanne nou eers oppad werk toe is, so daar was nie ‘n voertuig beskikbaar nie.”
Die polisie is twee maal daarna weer gebel, toe die voertuig met dinamiet oopgeblaas is en toe die rowers gevlug het. Uit desperaatheid het die man se vrou die hulp van die Middelburg 911 Zello groep ingeroep.
‘n Speurder wat naby die treinstasie op Stoffberg bly, was eerste op die toneel. Kort na hom het Zello radiogroeplede van Middelburg daar aangekom en daarna lede van die Middelburg polisie.
‘n Vrou wat naby Blinkwater werk het vertel dat ‘n Nissan Navara bakkie amper met haar
motor gebots het oppad werk toe. Sy het later uitgevind dat dit die vlugtende rowers was.
Die ooggetuie vertel dat daar steeds mense by die toneel stop en die veld fynkam in die hoop dat hulle ‘n geldjie gaan optel.
• Daar was sprake dat daar R2,2 miljoen in die voertuig was. Dit kon nie bevestig word nie.
• Die rowers het daarin geslaag om te vlug sonder om gevang te word.

