Video: Stem vir Middelburg – Kwêla Dorp van die jaar!
As die Dorp van die Jaar bekroon moes word volgens sy vermoë om windpompe te bou, sou Middelburg loshande gewen het.

Om Kwêla se Dorp van die Jaar kompetisie te bemark, is ’n windpompbou kompetisie binne ’n week gereël en Saterdag tydens die bemarkingsdag op die Kees Taljaard Stadion het veertig windpompe in verskillende kleure gedraai en gedraai!
Daar was pompe uit plastiek, uit grawe gemaak, plastiekbottels en selfs afval koerantpapier.
Middelburg is besig om sy vere behoorlik reg te skud, om as Dorp van die Jaar gekroon te word. Plakkate het reeds vanaf Woensdag aangekondig die dorp is Mpumalanga wenner en gaan die stryd soos ’n swaargewig pak.
Daar is selfs Saterdag windpompie borsspelde verkoop!
AFGRI se reuse implemente het oor die rugbystadion uitgekyk en Bennie Robinson van Headline Entertainment kon vir besoekers vertel waaroor die Dorp van die Jaar gaan en die belangrikste: Stem vanaf 15 Julie 2015 vir Middelburg deur ’n sms te stuur na 33157.
Alle oud Middelburgers, diegene wat hier gebore is, skoolgegaan het of op stadium gewerk het, word gevra om ook vir die dorp te stem.











