Video: Motorfietsryer ernstig beseer
'n Motorfietsryer is ernstig beseer in 'n ongeluk Saterdagmiddag regoor Twizza in Mandela Rylaan.
Mnr. Jan Badenhorst (46) het op die toneel nog vir noodpersoneel sy vrou, Marietjie (wat hy ‘Engel’ genoem het) se nommer gegee en gekla van erge pyn.
Me. Badenhorst sê sy is vanaf die toneel deur mense gekontak en sy het vir haar man by die Life Midmed Hospitaal gewag. “Hy kon egter met sy aankoms nie meer met ons kommunikeer nie,” het sy hartseer gesê.
Mnr. Badenhorst word sedert opname in die intensiewe eenheid behandel.
Volgens me. Badenhorst het hy waarskynlik sy kop laat sak toe hy besef hy gaan die voertuig tref, aangesien die valhelm bo gekraak het. “Sy kop moes die impak gekry het. Hy het bloeding op die brein en breinswelling.”
Sy het ook gemeld dat hy Sondag ‘n operasie ondergaan het vir ‘n erg gebreekte gewrig. “Sy ken en knie het ook oopgebars en moes geheg word.”
• Mnr. Badenhorst is ‘n passer en draaier by ACC Mining, wat langs Twizza geleë is. Hy was vanaf sy werk oppad huistoe, toe die ongeluk omstreeks 16:00 plaasgevind het.
• Teen druktyd was die besonderhede van die bestuurder van die blou Fortuner nog nie bekend nie. Mnr. Badenhorst se oranje 1 000cc Honda Blade motorfiets het die voertuig op die linker agterkant (langs die linker passasiersdeur) getref. Na wat verneem word, is niemand in die Fortuner beseer nie.
• Me. Badenhorst het die gemeenskap bedank wat haar en hul kinders in hierdie tyd ondersteun. “Middelburg se mense is ware sterre.”
• Daar was Donderdagaand ‘n ongeluk op die hoek van Beyers Naudé- en Walter Sisulustraat waarin ‘n motorfiets en ‘n Jeep Cherokee betrokke was. Teen saktyd was daar nog geen inligting van dié ongeluk beskikbaar nie.


