Ghana en die Amerikaanse dollars
Dis 'n weeskind in Ghana... Amerikaanse Dollars en Afganistan wat gebuk gaan onder oorlog?... En dan is Ysland óók nog deel van die hele storie?
Me. Judith Fick en mnr. Richard Troxell het ‘n versoek aan die gemeenskap, via ‘n e-pos aan die Observer gestuur, om saam met hulle hande te vat en ‘n seuntjie, wat glo tans in Ghana “onder haglike omstandighede leef”, aan te neem. En hiervoor benodig hulle fondse.
Volgens me. Fick het ‘n vriend op Facebook, mnr. Richard Mata, van Ghana, haar van “Jack”, vertel en ‘n foto vir haar gestuur.
Dié vriend het vir haar gesê dat soldate hom by ‘n weermagbasis in Afganistan gevind het, wat aan hom kos en klere voorsien het.
“Ek kan nie vir jou sê hoekom nie, maar die seuntjie op die foto het my hart diep geraak. Ek self het ‘n 28-jarige seun en het ‘n groot liefde vir kinders,” het me. Fick gesê.
Hoe presies die seuntjie van Afganistan tot in Ghana gekom het, is ‘n raaisel.
“Daar is vir my gesê dat die seuntjie beide sy ouers aan die dood afgestaan het in dié oorloggeteisterde land en dat hy op ‘n baie jong ouderdom geleer is om vuurwapens te hanteer.”
Volgens me. Fick is “Jack” tans onder ‘n “diplomaat”, met die naam Iddriss Fawaz se sorg geplaas, met wie sy in kontak bly.
Die nodige reëlings is, volgens me. Fick reeds getref om “Jack” onder hulle pleegsorg te plaas, deur middel van sy “geboorteland”, via dié diplomaat wat ingestem het dat “Jack” beter daaraan toe is om na mense toe te gaan waar hy met liefde en sorg hanteer kan word.
Me. Fick self weet nie wat die kind se van is nie. “Ek weet net sy naam is “Jack”.
“Ons wil so min as moontlik inligting oor die kind deurgee totdat hy veilig by ons is.”
Volgens me. Fick het iemand vanuit Ysland haar selfoon probeer kuberkraak nadat sy aansoek gedoen het om “Jack” aan te neem.”
Luidens die e-pos wat aan die Observer gestuur is, gaan dit nagenoeg $500 (R6215) kos om al “Jack” se nodige dokumentasie te bekom en sy vliegtuigkaartjie na Suid-Afrika te kan bekostig.
Daar is versoek dat die fondse in ‘n bankrekening in Amerika oorbetaal word aan die “diplomaat”, mnr. Fawaz, met verwysing na “Jack”.
“Ons bid en vertrou dat daar ‘n positiewe uitkoms vir hierdie seuntjie is en dat ons hom die geleentheid kan gee wat hom toekom.”
•Is die storie geloofwaardig?
“Die storie is baie geloofwaardig, ons is reeds besig om reëlings te tref om “Jack” tot in Suid-Afrika te kry.”
Die Observer het ‘n e-pos, na dié vriend se e-pos adres, richard.mata38@yahoo.com, gestuur om verdere navrae te doen, maar het teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.

