Opvolg: Trok voorkom nog ongelukke
Motoriste, paramedici en insleepdienste het Maandag 29 Junie se kettingbotsings as ’n “oomblik van totale chaos” beskryf.

Tientalle motors en vragmotors was op die N12 asook die N4 hoofweë, minute uitmekaar, in kettingbotsings betrokke.
Motoriste sê dit was ’n wonderwerk dat mense nie op die N4 gesterf het nie.
Die oorsaak van die botsings kan toegeskryf word aan digte mis wat in die omgewing van die N4 Middelburg Tolplaza toegesak het en bestuurders wat nie hulle spoed verminder het nie.
Twee insittendes op die N12 se lewens is geëis en verskeie mense is met beserings na nabye hospitale vervoer.
Gelukkig is slegs een persoon op die N4 ernstig beseer.
Vyf-en-sewentig voertuie en drie swaarvoertuie was op die N4, ongeveer drie kilometer na die Tolplaza, in ’n kettingbotsing betrokke.
Die bestuurder van ’n Heunis Steel vragmotor, was die laaste voertuig betrokke in dié kettingbotsing.
Mnr. Fhapwani Psevasi, bestuurder van dié vragmotor, het uitgeswenk, gegly en ’n BMW motor van agter af, getref.
Die vragmotor het dwars oor die pad tot stilstand gekom.
“Toe ek in die digte mis die Heunis trok dwars oor die pad opmerk, kon ek saam met baie ander voertuie betyds van die pad aftrek,” het me. Freda Schafli gesê.
“Die bestuurder het baie mense se lewens gered. Ek dink nie dit was per toeval dat hy dwars oor die pad tot stilstand gekom het nie. Dit is net danksy God se genade dat ek en ander mense vandag ons ondervindings van die oggend se gebeure kan oorvertel.”
Sien Video hier:
Video: Kettingbotsing in digte mis
•Een van mense wat in die Ronel Botma saak in die Hooggeregshof moes getuig, mnr. Roberto Ciciliato, was ook in die verkeer vasgevang terwyl medici pasiënte behandel het en insleepdienste besig was om die toneel op te ruim.
•Die hof moes eers verdaag totdat mnr. Cicilaito vanaf die ongelukstoneel kon opdaag.
•Botma, het skuldig gepleit het op die moord van haar man, Tiziano Ciciliato, in Februarie 2012. Sy gaan waarskynlik Vrydag gevonnis word.
•Ciciliato is die oorledene se broer.
•Die Observer se videomateriaal van die toneel is Maandagaand op E-nuus uitgesaai.
Lees nog verwante stories hier:
Update: Six die after horror accident