Helikopter pik beseerde op
'n Jong man is ernstig beseer in die ongeluk Vrydagmiddag op die hoeke van Samora Machel- en Zuidstraat (naby HTS Middelburg).
Michael Smit (22) is Vrydag per helikopter oorgevlieg na die Millpark Hospitaal waar hy vir ernstige kopbeserings behandel word.
Die ongeluk het omstreeks 13:00 in dié kruising plaasgevind waar ‘n Ford Bantam (van FNK) bakkie en ‘n Nissan Hardbody mekaar getref het. Michael het die bakkie van FNK bestuur.
Beide voertuie het op die sypaadjie in John Magagulastraat te lande gekom.
Die ernstig beseerde Michael is na die Life Midmed Hospitaal afgevoer, waar hy gestabiliseer en dieselfde aand per helikopter na Millpark gevlieg is. Hy word sedertdien in die trauma intensiewe eenheid van die hospitaal behandel.
Sy ma, Suzette, het Maandag gesê dat Michael onder verdowing gehou word. Hy het swelling op die brein en het aanvanklik koors gehad.
“Die professor het gesê dat Michael besig is met ‘n ongelooflike herstelproses en dat hulle glo dat hy ten volle sal herstel. Dit gaan goed met my kind sover. Dankie vir almal se omgee en gebede.”
Sy het gesê dat hulle hom Woensdag sal begin wakker maak en ook die ventilator sal afhaal as hy self kan asemhaal. “Hulle sal eers as hulle hom wakker maak, kan vasstel of daar enige neurologiese skade op die brein is.”
• Die bestuurder van die Nissan Hardbody het geen beserings opgedoen nie.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!

