Booswigte wag in voerbak

"Ek het al gesien hoe skiet hulle my en los my net daar alleen in die veld!"

Dit was die woorde van mnr. Hendrik van Staden, nadat drie mans hom Woensdagoggend op sy wildsplaas, Rooiboskloof, met vuurwapens aangehou het.

Soos elke ander oggend het mnr. Van Staden saam met sy plaaswerkers die wild op die plaas gaan voer, maar Woensdagoggend het hy opgemerk dat sy swartwitpense in kamp een nie by die voerbakke staan soos gewoonlik nie. Hy het verbygery en die ander bokke op die plaas maar eerste gaan voer.

Omstreeks 07:40 het mnr. Van Staden teruggekeer na die kamp waar die swartwitpense wei en opgemerk dat hul steeds sowat 400 meter vanaf die voerbakke staan, wat ongewoon is.

Hy het by die voerbakke stilgehou met sy Toyota Land Cruiser sodat sy drie plaaswerkers die voer in die voerbakke kan gooi.

“Toe die eerste voer die bakke tref, het drie verdagtes wat verskuil onder lusern lê, vanuit die voerbakke gespring. Elk in polisieuniform geklee en met 9mm pistole,” het mnr. Van Staden vertel.

Die drie plaaswerkers het hul boeglam geskrik en elk in ‘n ander rigtings begin hardloop, wat mnr. Van Staden op sy eie met die booswigte gelaat het.

Mnr. Van Staden het dadelik die pasassiersdeur van die bakkie gesluit. Die rowers het egter hul vuurwapens teen sy kop gedruk en deur sy hemp se sakke begin voel vir waardevolle items en geld.

“Hulle het heeltyd vir my gevra ‘where’s the money?’ Ek het die vuurwapen teen my kop probeer weg klap, maar dan druk die volgende een net weer sy wapen teen my kop.

Ek het die bakkie se deur hard oopgeskop en twee van hulle het op die grond beland, maar die derde een het weer sy vuurwapen teen my kop gedruk. Die een het my beveel om in die veld in te loop.

Ek het gedink dat hulle my net daar en dan gaan skiet en in die veld gaan los,” onthou hy die gebeure.

“Ek het die bakkie hoor aansluit en toe ek terugkyk, toe sien ek hoe spring die derde verdagte in die bakkie en jaag weg. Ek het gevrees dat hul na my huis sal gaan waar my vrou, ma en dogter alleen by die huis is.

Ek kon niks doen nie, my selfoon en bandradio is in die bakkie waarmee die verdagtes weggejaag het. Ek het in die veld gelê en probeer kyk of die mans in die rigting van die huis ry, maar het gesien hoe hul na die uitgang van die plaas jaag.”

Mnr. Van Staden se seun, Dawie, was by die store wat by die hoofingang van die plaas is. Hy het gesien hoe sy pa se bakkie met drie onbekendes verby jaag en die plaas verlaat. Hy het dadelik is sy Toyota trok gespring en hul agterna gesit.

Dawie het die verdagtes gevolg tot in Haarhoffstraat waar die mans in ‘n wit Toyota SRX bakkie gespring en weggejaag het.

Hy het teruggejaag na die plaas, waar hy sy pa gekry het waar hy intussen begin aanstap het na die huis.

• Mnr. Van Staden is nie in die voorval beseer nie.

• Volgens a/o Stanley Magaela is daar geen verdagtes tot dus ver in hegtenis geneem nie.

• Daar is later vasgestel dat die rowers toegang tot Rooiboskloof gekry het, deur die enigste stukkie ongeëlektrifiseerde omheining te knip wat die kanaal en die plaas van mekaar skei.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button