Twee vas na mislukte roof
"Tuin gereedskap kan gebruik word om jou huis oop te breek..."

Vroeg Sondagoggend is twee verdagtes naby die bergraafplaas in Polvy Straat deur lede van Hi-Tech Nelspruit en die SAPS vasgetrek. Daar word vermoed dat die twee vermeende rowers met verskeie inbrake in dié gebied verbind kan word.
Die voorval het omstreeks 02:30 die oggend gebeur. Hi-Tech Nelspruit beheerkamer het ‘n paniek sein van ‘n kliënt onvang en dadelik ‘n reaksielid, Kevin van Rensburg, ontbied. Daar aangekom het die beampte drie verdagtes in die bosse in sien hardloop en is ter voet agterna. Een van die mans is deur Van Rensburg vasgetrek en gereedskap is op sy persoon gevind. Daar word beweer dat hierdie gereedskap gebruik word om mee in te breek.
Adjudant Offisier Sambo van die Nelspruit SAPS het oomblikke later by van Rensburg aangesluit en ‘n tweede verdagte inhegtenis geneem waar hy agter bosse in die area weggekruip het. Die derde man is nogsteeds soek.
“Ons vra die publiek om seker te maak dat hul alarms aan geskakel is in die aand voor hulle gaan slaap sodat hulle nie onverhoeds deur inbrakers betrap word nie,” maan Vernon Lancaster, Operasionele Bestuurder by Hi-Tech Nelspruit. “Maak ook seker dat enige tuingereedskap wat in jou erf rond lê, weggebêre word sodat dit nie gebruik kan word om in jou huis in te breek nie.”



