Willem Kruger: Pa se soeke na die waarheid te midde van bespiegelinge
Skokonthullings is onlangs gemaak oor die dood van Willem Kruger (29) wie se oorskot in sy bakkie in die Vaalrivier gekry is.
Daar is tans meer vrae as antwoorde oor die raaiseldood van Willem Kruger (29) na skokonthullings Sondag gemaak is.
Willem, ‘n oudleerling van HTS Middelburg, het in November verlede jaar aanvanklik eers spoorloos verdwyn toe hy glo van Morgenzon na Groblersdal vertrek het.
Sy verdwying het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei en daar is wyd en syd na hom gesoek. Die soektog het meer as ‘n week lank geduur en op die ou einde is hy in sy bakkie op 22 November 2022 in die Vaalrivier gevind.
Nou, maande later, is die land weer in rep en roer oor dié tragiese gebeure nadat Rapport Sondag talle bewerings op die lappe gebring het.
WIllem se pa, Tian, het vanoggend aan Middelburg Observer gesê dat die bewerings ‘nie van ons af kom nie’.
Hy wou nie uitbrei oor die ondersoek nie, maar het gesê dat hulle net ‘die waarheid wil hê’ oor sy seun se dood.
Tian wou nie enigiets sê wat die ondersoek kan belemmer nie en het onderneem dat hy later wel meer inligting sal verskaf, sodra die ondersoek afgehandel is.
Die lodge kap terug
Die Henbase Lodge, waar Willem se bakkie gevind is, het ’n persverklaring uitgereik oor skokbewerings wat gemaak word in nuus- en sosiale media.
Die lodge het in ‘n verklaring gemeld dat hulle inderdaad nie gereageer het op vrae wat ’n ene Pieter Steyn aan hulle gestuur het nie ‘aangesien ons ons volle samewerking aan die polisie lewer met betrekking tot hulle ondersoek’.
Hulle sê voorts dat hulle nie op alle aantygings kan reageer op ‘ongestaafde bewerings’ nie.
“Op die tydstip wat die bakkie uitgesleep is, was die SAPD en verskeie ander rolspelers op die toneel en is daar slegs hulp aangebied, nadat die relevante owerhede ons versoek het om ons trekker vir die doel te gebruik,” het die verklaring gelees.
Die res van die verklaring lui:
• Henbase Lodge bly verbind tot eerlikheid en deursigtigheid en sal op geen tydstip betrokke wees by enige toesmeerdery of omkopery nie, en kan ongelukkig nie op sensasionele beriggewing reageer nie.
• Daar is simpatie met die familie van Willem Kruger met sy afsterwe, en as sulks bly ons verbind tot die waarheid en sal op alle vrae van die nodige en, relevante gesagstrukture antwoord, en verklarings lewer sover nodig.
• Dit bly tragies dat die voorval by ons lodge plaasgevind het, maar kan ons die versekering gee dat ons, ons volle samewerking aan die SAPD se ondersoekspan sal gee.
• Die lodge sal steeds, soos in die verlede, op ’n eerbare wyse en in beste belang van alle gaste ons besigheid bedryf en sal op geen individuele kommentare, sensasionele berigte of media versoeke reageer nie, aangesien ons glo dat die SAPD die nodige ondersoeke doen en as sulks gee ons, ons volle samewerking in die verband.
G’n bakkie is gekonfiskeer nie – SAPD
Bewerings word op sosiale media gemaak dat Janneman Uys se voertuig gekonfiskeer is na Willem se dood.
Brigadier Selvy Mohlala, ‘n polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het egter aan Middelburg Observer gesê ‘dat ons nie ’n voertuig van enigiemand gekonfiskeer het nie’.
Uys is vanoggend gekontak na daar talle bewerings op Facebook en ander sosiale media soos Instagram gemaak is.
Daar is onder andere op die Instagram groep, Baklei vir Boere, gesê dat Janneman se bakkie ongedeerd by die lodge aangekom het, maar ‘die volgende oggend vol duike en stampe, met ’n af spieëltjie gekonfiskeer was’.
Verder is beweer dat die polisie die bakkie gekonfiskeer het vir verdere ondersoek.
Die boodskappe is wyd op Facebook gedeel, maar Janneman wou nie kommentaar lewer nie en het net dié WhatsApp vir die joernalis gestuur:
“Ek het my samewerking vir die polisie gegee en gehelp sover ek kon. Ek respekteer die polisie en hulle harde werk. Ek wil nie hulle ondersoeke belemmer of beïnvloed nie. Ek dink ons moet die proses toelaat om sy gang te gaan. Ek sal dalk later bereid wees om te gesels, maar nie nou nie. Ek hoop tannie verstaan en respekteer my besluit. My ma en my familie gaan ook deur ’n moeilike tyd oor iets waarin ek geen rol gespeel het nie.”
- ’n Vrou het kort na die gebeure by Henbase gesê dat hulle as kampers agtergekom het daar is ’n rampartytjie die aand aan die gang ‘soos hulle tekere gegaan het’.
- Daar is ook gesê dat die bestuurders van drie bakkies, wat deel was van die groep by die rampartytjie, mekaar op ’n stadium gejaag het op die Henbase Lodge se perseel.
- ’n Anonieme bron sê dat een van die rampartytjiegangers al voorheen in die moeilikheid was na ’n ongeluk en dat daar eise teen hom ingestel is. Wat van die eise geword het, kon die bron nie bevestig nie.
Read original story on caxtondigital.co.za