Seun (46) wat teregstaan op moord van 67-jarige ma kry borg
Charlotte Christine Fenn is ontvoer en doodgeskiet, vermoedelik deur haar seun Grant du Toit en twee van haar huurders.
Borgtog is vanoggend in die Vereeniging-landdroshof toegestaan aan ‘n seun (46) wat op die moord van sy 67-jarige ma teregstaan.
Grant du Toit is op 4 Februarie saam met twee ander in hegtenis geneem vir die ontvoering en moord van sy ma, Charlotte Christine Fenn (67), en was sedertdien in aanhouding.
Hy het sy ma se begrafnis gemis oor hy in aanhouding was, maar vandag het sy borgaansoek in die Vereeniging-landdroshof geslaag.
Dit volg nadat die staat toegegee het die enigste bewyse wat daar in hierdie stadium teen Du Toit is, is bloed wat op sy hemp en skoene gevind is.
Die kledingstukke is blykbaar in ‘n wasgoedmandjie in Du Toit se kamer gevind en volgens ‘n verklaring van die ondersoekbeampte was die klere vol gras, modder en bloed.
Daar was ook krapmerke aan Du Toit se arms.
“Buiten dit [die bloed op die klere] is daar [in hierdie stadium, terwyl daar vir die uitslag van forensiese toetse gewag word] nie veel bewyse wat die beskuldigde [Du Toit] met die moord verbind nie,” het die staatsaanklaer, Amukelani Rikhotso, toegegee.
Die kledingstukke is vir forensiese en DNS-toetse gestuur maar in hierdie stadium is daar nie afdoende bewyse dat dit wel Fenn se bloed is nie.
Op die vraagstuk van of die moord ‘n voorafbeplande moord was of nie, het landdros Chris Kruger gesê die klagstaat maak geen melding daarvan dat dit wel ‘n voorafbeplande moord was nie.
Slegs in die verklaring van die ondersoekbeampte spreek die beampte die opinie uit dat daar ‘n mate van voorafbeplanning was.
Kruger het gesê dat die ondersoekbeampte dié opinie moontlik kon gevorm het op grond van verskillende inligting tot sy beskikking.
“Dit kan wees dat hy [die ondersoekbeampte] tot dié gevolgtrekking gekom het as gevolg van verklarings wat deur die ander twee beskuldigdes gemaak is, maar ek gaan nie daaroor spekuleer nie.”
Kruger moes besluit of Du Toit se vrylating in die belang van geregtigheid is.
“Daar word aanvaar dat verklarings wat deur medebeskuldigdes gemaak word nie teen ander beskuldigde gebruik kan word nie…Dit is moontlik dat die uitslag van toetse [later] na die onskuld of skuld van die beskuldigde [Du Toit] kan wys. Soos die staatsaanklaer aangevoer het sal dit onregverdig wees om die beskuldigde aan te hou tot die uitslag van die toetse beskikbaar is.
“Dit moet egter in gedagte gehou word dat [die weiering van] borgtog nie ‘n vorm van straf is nie. Dit is om toe te sien dat die persoon wel sy verhoor sal bywoon en nie met getuies of bewysstukke sal inmeng nie, en sodra die hof tevrede is dat die persoon wel sy verhoor sal bywoon en nie getuies sal intimideer nie, in terme van die wet behoort bortog dan toegestaan word.”
Die hof het die borgbedrag op R2 000 vasgestel en Kruger het borgvoorwaardes gestel.
Du Toit mag nie met getuies of bewysstukke inmeng nie en moet sy volgende hofverskynigings bywoon, selfs al is dit in ‘n ander hof.
Die ander voorwaarde is dat hy op sy pa se plaas in die Ottosdal-distrik sal moet gaan bly vir die duur van die saak.
Du Toit het voorheen in die staalindustrie gewerk en was onder meer ‘n werknemer van ArcelorMittal en Cape Gate, voordat hy jare gelede afgelê is.
Ná sy aflegging het Du Toit tot en met Fenn se dood saam met sy ma op haar eiendom in Sonlandpark gewoon en ‘n herwinningsprojek bedryf waarmee hy ou plastiek en metaal aan skroothandelaars verkoop het en sodoende ongeveer R10 000 per maand gemaak het.
Volgens ‘n eedsverklaring wat hy afgelê het en Donderdag aan die hof voorgelees is, het Du Toit een kind, ‘n 16-jarige dogter wat tans by haar ma bly.
Hy het geen vorige veroordelings of sake teen hom nie.
Du Toit staan saam met Quinton Edgar (52) en Edgar se saamleefmaat, Linday Kirton (31), tereg op die ontvoering en moord op Fenn, sowel as die diefstal van haar bakkie en opsetlike saakbeskadiging.
Edgar en Kirton was huurders wat op Fenn se preseel gebly het.
Die polisie het 6 Februarie Fenn se lyk in ‘n veld gevind nadat sy op 3 Februarie deur haar kleinkinders as vermis aangemeld is.
Volgens die polisie het sy skietwonde aan haar kop gehad.
Voordat die polisie Fenn sy liggaam ontdek het, is die oorledene se uitgebrande bakkie op ‘n plaas naby Sasolburg gevind.
Edgar en Kirton het intussen albei hulle borgaansoeke laat vaar en bly in aanhouding.
Die saak is uitgestel tot 14 April.
Read original story on vaalweekblad.com