Klerksdorp-vrou en kinders gekaap op pad na skolesport in Middelburg

Drie ander paartjies, wat dieselfde dag op die dieselfde wyse gekaap is, is tydens die vrou en kinders se opsporing gevind.

’n Vrou met drie kinders by haar in die kar is Saterdag gekaap terwyl sy vanaf Klerksdorp op pad was na Hoërskool Middelburg vir ‘n sportdag.

Hulle is later op ’n grondpad gekry waar nóg drie paartjies, wat ook vroeër die dag gekaap is, tussen die grasse uitgekom het.

Verskeie inwoners is die afgelope paar jaar op die N12 gekaap, waaronder sakeman Piet du Toit en Gerda Toms saam met haar seun Joshua, nadat Toms hom gaan haal het by die SA Kunsaas Hengelkompetisie by Forever Loskopdam in 2021.

Die insident Saterdag is op dieselfde wyse uitgevoer; die vrou en kinders is deur ’n groep wat hulle voorgedoen het as polisiemanne, gekaap. Daar is meer as twee ure met hulle rondgery, waarna hulle in ’n veld afgelaai is.

Die hele tyd is gedreig dat hulle doodgeskiet gaan word.

Die adjunkhoof van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp, Lourens van der Merwe, het bevestig dat die drie leerlinge (tussen graad 8-10) wat in die kar was tydens die kaping, almal vandag weens die trauma tuis gebly het. “Almal betrokke kry tans berading,” voeg hy by.

Van der Merwe noem dat hy nie veel besonderhede van die insident het nie, maar hy het wel die agtergrond vertel soos hy dit gehoor het.

Die vrou was met haar eie twee kinders, asook ’n maatjie, op pad na Middelburg, toe sy gekaap is.

Van der Merwe sê dat ’n vriendin van die ma hulle met behulp van ’n toep op haar foon gevolg het soos hulle die roete Middelburg toe aangepak het.

Die vriendin het op ’n stadium gesien dat hulle nie meer op die hoofweg ry nie en sy het dadelik hulp ontbied.

Van der Merwe sê hy het gehoor dat die kaping ‘naby Middelburg’ plaasgevind het, maar is nie seker presies waar en hoe dit gebeur het nie.

Daar is vir hom gesê dat die ma en haar twee kinders en een van die kinders se maatjies, op ’n grondpad gekry is.

Wat vir hom skokkend was is dat daar gesê is dat met die opsporing van die vrou en kinders, nóg drie paartjies gekry is. Hy het gemeld dat die paartjies se klere geskeur was.

• Die ma van die kinders is hospitaal toe geneem vir behandeling, aangesien sy deur die kapers aangerand is.
Sy is na behandeling ontslaan.

• Die gesin se selfone is gesteel en kon daarom ook nie bereik word nie.

• Hoërskool Middelburg se hoof Johan Stronkhorst sê een van die rugbywedstryde het ’n paar minute later as beplan afgeskop omdat die seun wat gekaap is, nie opgedaag het nie. Een van die plaasvervangers het daarna vir hom ingestaan.

• Enige persoon wat meer inligting het rakende die kapings, waar dit plaasgevind het en hoe almal gekaap is, kan Daleen Naude bel by 013 243 1434 of ’n e-pos stuur aan daleen@mobserver.co.za.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button