Pitbull-hond keer Mpumalanga gesin in huis vas

’n Pitbull wat skynbaar mal geraak het, het eers ’n klein hondjie verskeur en daarna sy eienaar aangeval.

Was dit nie vir twee mans wat vir Rocky, die Janse van Rensburg gesin in Middelburg, Mpumalanga se liefling pitbull-hond, van agteraf om sy nek beetgekry en begin wurg het nie, sou hy sy eienaar waarskynlik doodgebyt het.

Met verbande en warm komberse om beide hande, probeer Hein Janse van Rensburg (33) steeds sin maak uit die gebeure van gister. Hy was magteloos toe sy hond op hom afstorm en hom onderstebo spring.

“Met die force waarmee hy gespring het, het ek op my rug geval. Hy het gekom vir my gesig en ek het met my regterhand probeer keer, maar hy het my aan die hand beetgekry en begin ruk en skud. Hy was op my bors en ek het my linkerhand in sy bek probeer druk, maar hy het die senuwees uit my handpalm uitgeruk. Was dit nie vir my vriend en my swaer wat hom van agter om sy nek beetgekry het nie, sou hy my doodgebyt het.”

Janse van Rensburg sê dat Rocky altyd by sy seuns op hul beddens geslaap het en groot maats was met sy ander honde. Drie weke gelede het Rocky skielik een van sy hondemaats gebyt en die gesin was bekommerd daaroor. Hulle het hom ’n week later laat steriliseer.

Zania, sy vrou, was gister besig om ’n stukkende plekkie op die hond wat vroeër gebyt is te dokter en Rocky het langs haar gesit. Hul jaaroue babaseuntjie, Heinrich, het by haar gestaan.

Daar het sweersel uit die hond se wond gekom en haar stem het effens opgegaan toe sy sê: “Daar kom alles nou uit.”

Die gesin weet nie of dit moontlik vir Rocky vreemd laat reageer het nie.

“Rocky het dadelik vir Zania gegaan en ek het die sitkamertafeltjie gegryp en tussen ons gehou,” vertel Janse van Rensburg.

Die hond was uiters aggressief en met die tafeltjie tussen hulle het Janse van Rensburg vir Rocky weg gestoot tot hy by die voordeur uit geloop het.

By die voordeur het Rocky een van hul ander honde, Cheeky, beetgekry.

“Hy en Cheeky het saam grootgeword, maar hy het haar gegryp en binne sekondes uitmekaar geskeur.”

Janse van Rensburg sê hul vriende, asook sy swaer en sy vrou het in hierdie tyd by hul huis gestop, maar hy het vir hulle gesê om nie uit hul karre te klim nie, omdat Rocky so aggressief was.

Na ’n hele ruk het die pitbull egter kalmer geraak en Janse van Rensburg het na sy bakkie toe geloop.

“Toe ek by my bakkie kom, het Rocky my gestorm en my omgespring.”

Terwyl hy met die reuse hond gestoei en sy hande erg verskeur is, het die ander twee mans uit hul voertuig gespring en Rocky van agter af beetgekry.

“Hulle het hom gewurg tot hy kalmer geword en in ’n beswyming gegaan het. As hulle dit nie gedoen het nie, weet ek nie wat sou gebeur het nie.”

Janse van Rensburg se ma, Rita van Straaten, sê in die tyd wat Rocky so aggressief was het, het sy, haar skoondogter en die vier seuns hulself in die kamers toegesluit omdat hulle bang was die hond kom weer op ’n manier by die huis in.

“Niemand kon uit nie en niemand anders kon inkom nie, só aggressief was Rocky,” sê Van Straaten.

Janse van Rensburg sê daar was binne minute na die aanval talle mense op die erf. Die polisie en ’n ambulans het ook opgedaag.

Hy het nie ’n mediese fonds nie en het na die gebeure hulp gekry by ’n apteek. Hy is veral bekommerd oor sy regterhand.

“Die velle is van die been afgeskeur, so ek kan nie steke kry nie.”

Omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, is Janse van Rensburg senuweeagtig oor watter mediese behandeling en wondsorg hy nog sal moet kry.

Janse van Rensburg is die eienaar van Reaper Insleepdienste in Middelburg.

  • Die gesin weet nie wie vir Rocky weg gevat of wat met hom gebeur het nie. Die Middelburg Observer het vanoggend verneem dat die hond na ’n plaas geneem en daar uitgesit is.
  • Die gesin het Rocky se optrede met ’n veearts bespreek en die moontlikheid van hondsdolheid is uitgeskakel omdat al sy inentings op datum was en hy nie ander simptome gehad het nie. Janse van Rensburg sê hulle het geen antwoorde oor wat die hond tot aanval laat oorgaan het nie.
  • Me. Van Straaten het gemeld dat sy altyd ’n kampvegter vir pitbull-honde was, ‘maar hierna voel ek heeltemal anders! Rocky was altyd liefdevol en het by die kinders geslaap en hulle opgepas. Klein Heinrich was by sy ma toe Rocky mal begin word het. Gelukkig het hy nie vir hom gegaan nie!’

 

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button