Video: Digte mis lei tot kettingbotsing waarin 4 sterf op die N12 in Mpumalanga
Dit is tans onbekend hoeveel voertuie in die botsing betrokke is, maar 'n motoris het sy ervaring vanaf die ongelukstoneel gedeel.
Vier lewens is geëis nadat talle trokke en ander voertuie op die N12 tussen eMalahleni en Ogies met mekaar gebots het.
Die Departement van Veiligheid in Mpumalanga het die sterftes in ’n persverklaring bevestig en gemeld dat digte mis sig belemmer en die ongeluk veroorsaak het.
Die pad was vir ‘n geruime tyd gesluit. Daar is net voor 13:00 laat weet dat daar een baan in eMalahleni se rigting oop is maar dat albei bane na Johannesburg steeds gesluit is. Motoriste word gemaan om alternatiewe roetes te gebruik.

Chaos op die pad
Herculaas Taljaard, wie plofstof in sy voertuig vervoer het, het vroeër aan Middelburg Observer vertel oor die gebeure op die toneel.
“Ek het die mense hoor skree! Dit is verskriklik! Ek het self byna in die ongeluk vasgery!”
Taljaard kon nie bevestig hoeveel voertuie in die gru-toneel betrokke was nie, maar noem dat die botsing naby die Ogies-afdraai plaasgevind het.
“Daar is weerskante, eMalahleni se rigting en Johannesburg se rigting, ongelukke weens die mis. As ek so kyk, praat ek van ten minste 20 trokke en seker 50 karre! Al vier bane is gesluit.”
Weens die plofstof wat hy vervoer het, het die polisie hom gehelp om uit die ongelukstoneel uit te ry.

“Hulle het gesê ek staan op ’n onveilige plek en met die plofstof in die bakkie, kan ek nie daar staan nie. Dit is baie lelike ongelukke. Die een trok is opgelig en daar is ’n persoon dood in die een voertuig wat onder hom was. Maar daar is beslis meer mense dood, want verskeie voertuie het in trokke vasgery weens die mis,” het hy vroeër genoem.
Read original story on www.citizen.co.za