Naamsverandering van Karoo dorpe: Petisie geloods
Die departement sê dat naamsveranderinge in ander dorpe voort gegaan het al is daar besware daarteen aangeteken.
Minstens een organisasie het aangedui dat hulle die voorgestelde naamsverandering van vier dorpe in die Dr Beyers Naude Plaaslike Munisipaliteit, sal teenstaan. Daar is ook reeds ‘n petisie geloods teen die nuwe name.
Volgens die Oos-Kaapse departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur se voorstel moet Karoo dorpe se name verander:
- Graaff-Reinet – Robert Sobukwe of Fred Hufkie
- Adendorp – Kwa Mseki Bishop Limba
- Aberdeen – Camdeboo
- Nieu-Bethesda – Kwa Noheleni
Die nuwe name is volgens Mark Mandita, verteenwoordiger van die departement, voorgestel deur twee individue, wat volgens hom in terme van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting nie geïdentifiseer mag word nie.
Die Graaff-Reinet Residents and Ratepayers Association (GRRPA) het alreeds verlede week hul misnoeë hiermee uitgespreek en aangedui dat hulle dit beslis gaan teenstaan.
Elizabeth Buisman, sekretaresse van die GRRPA, het ‘n skrywe aan Christian Martin, voorsitter van die Oos-Kaapse Provinsiale Geografiese Namekomitee (ECPGNC), gerig om duidelikheid oor sekere aspekte van die aansoek te kry.
‘Minimale’ ekonomiese impak
Die koste verbonde aan hierdie naamsveranderinge is een van die grootste knelpunte wat geopper is maar volgens Martins is die begroting hiervoor so minimaal dat geen sigbare verskil aan infrastruktuurontwikkeling gemaak sal word indien dit vir daardie doel aangewend sou word nie.
Buisman is egter van mening dat die finansiële impak daarvan op plaaslike besighede en ander instansies glad nie in ag geneem word nie.
“Selfs ons GRRPA sal ons webwerf, logo en briefhoof moet verander.”
Hierop het Martins geantwoord dat hy in die verlede sy maatskappye se bemarking en promosie teenoor belasting afgeskryf het en dat maatskappye van hierdie opsie gebruik moet maak.
“Hy wat probeer spaar op bemarking en promosie is soos iemand wat probeer om op te hou asemhaal om suurstof te bespaar. Nodeloos om te sê – jy sal sterf. Dieselfde geld vir die maatskappy,” het hy bygevoeg.
Kon die fondse nie beter bestee word nie?
Volgens Buisman is dwelmmisbruik onder die jeug die gevolg van ‘n gebrek aan geleenthede en een van die aspekte wat gepriotiseer moet word bo ‘n naamsverandering.
Martins het haar verseker dat hy dieselfde sentiment deel maar volgens hom moet jeugdiges wat vasgevang is in enige vorm van verslawing hulp soek by een van die dienssentrums in die provinsie.
Een van hierdie dienssentrums waarna hy verwys is die Ernest Malgas-dwelm- en rehabilitasiesentrum in Gqeberha.
Martins het bygevoeg dat die redes wat aangevoer word wanneer besware geopper word soms nie relevant tot hul mandaat is nie.
Hoe swaar weeg publieke deelname?
Buisman sê dat die kwessie van publieke deelname en deursigtigheid steeds kommerwekkend is en beklemtoon dat publieke deelname wetlik verplig word en dat dit dus onwettig is om nie die publiek se besware in ag te neem nie.
“Mark Mandita, verteenwoordiger van die department, het hierop gesinspeel toe hy tydens die spesiale raadsvergadering op 29 Augustus genoem het dat voorgestelde naamsveranderinge in ander dorpe voortgegaan het ondanks besware wat deur gemeenskappe geopper is,” sê sy.
Wie het aansoek gedoen vir die naamsverandering?
Buisman is ook van mening dat die identiteit van die aansoekers bekend gemaak moet word omdat dit in publieke belang is. Hierdie aspek word tans deur ‘n regskenner wat deur Buisman genader is ondersoek, en meer daaroor sal gepubliseer word sodra terugvoer ontvang is.
Tans word daar verskeie gemeenskapsvergaderings gereël om aksieplanne te bespreek om die naamsverandering teen te staan.
Daar is ook ‘n petisie op die webwerf change.org geloods om die voorgestelde naamsversveranderinge teen te staan. Kliek hier om die petisie te lees en te onderteken.
Toe hierdie berig gepubliseer is het die petisie reeds deur 2 749 individue onderteken.
Dit is tans onseker of die petisie wel deur die ECPGNC aanvaar sal word. Die Graaff-Reinet Advertiser het navraag in hierdie verband aan Martin gerig.
Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com