Brakpan-man se lyk ontdek nadat vrou sy pantoffel raaksien
Toe Hendrik van Dyk (46) se vrou, Elain (36), dié item tussen ruie bosse oorkant hulle woonstel sien, het sy besef daar is groot fout.
Die soektog na ‘n inwoner van Brakpan wat Saterdagaand vermis geraak het, het tragies geëindig toe sy liggaam slegs ‘n paar meter van sy woonstel in ‘n sloot, gevul met vuil en stinkende water, ontdek is.
Hendrik van Dyk (46) is vermoedelik Saterdagaand oorlede toe hy verskeie kere met ‘n mes of ‘n ander skerp voorwerp gesteek is, voordat hy in die sloot beland het.
Sy hartgebroke vrou, Elain (36), wat onverpoos na haar man gesoek het, het Sondagoggend instinktief geweet dat daar groot fout is toe sy haar man se pantoffel, naby die plek waar sy liggaam gevind is, ontdek het.
Sy het aan die swart pantoffel vasgeklou terwyl verskeie rolspelers Sondagoggend in die omgewing na Hendrik gesoek het.
Die egpaar se enigste seun, Barend (18), was ook op die toneel toe sy pa se liggaam uit die water gehaal is.
Dié aand se gebeure
Die tragiese voorval het homself Saterdagaand ongeveer 21:00 begin afspeel toe Hendrik besluit het om vanaf ‘n familielid se huis, waar hulle gekuier het, na die gesin se woonstel in Goodstraat te stap.
“Hendrik het maar ‘n wil van sy eie gehad maar ek was nie bekommerd nie, want ek het geweet hy sou my bel om te sê waar hy homself bevind,” vertel Elain. “Dit was inderdaad ook die geval en hy het my swaer, Fanie Botha, laat weet dat hy by ons woonstel is en op ons wag aangesien hy nie ‘n sleutel gehad het om in te gaan nie.”

Toe Elain saam met Barend en Fanie asook Barend se vriendin, Sunica Brink, by die woonstel opdaag was daar egter geen teken van Hendrik nie.
Hendrik was Saterdagmiddag glo in ‘n woordewisseling betrokke met ‘n persoon vanaf sy balkon nadat hy gesien het hoe die persoon glo dwelmmiddels aan ‘n jong meisie verskaf het.
“Ek was uit die aard van die saak bekommerd toe ek nie vir Hendrik sien nie en ons het dadelik begin om op en af in die omgewing te ry om my man te soek.”
‘n Bekommerde Elain het later die hulp van raadslid Riaan van Zyl van die VF Plus, wat ‘n vriend van die gesin is, ingeroep en ook by die Brakpan SAPD gaan aanklop vir hulp.

Steeds soek
“Teen 05:00 Sondagoggend was daar steeds geen teken van Hendrik nie en het ek teruggekeer na ons woonstel om net ‘n blaaskans te neem,” voeg Elain by.
“Ek het op my bed gesit en bid dat hy net veilig na ons toe sal terugkeer.”
Sy en haar seun het kort daarna weer begin soek in die omgewing oorkant hulle woonstel.
Die area is bebos en bekend daarvoor dat haweloses onwettig skuilings tussen die ruie bosse maak en daar woon.
“Dit is regtig nie veilig om die area binne te gaan nie, maar ek het effe in beweeg en dit is toe dat ek Hendrik se swart pantoffel sien. My hart het in my skoene gesak en ek het geweet dat daar groot fout is.”

Met die hulp van Van Zyl is alle rolspelers na die toneel ontbied en is dit gefynkam. Sowat 30 mense het help soek, maar Hendrik se liggaam is eers nadat ‘n hommeltuig ingespan is, in die sloot ontdek. Dit is reg oorkant die gesin se woonstel.
Slegs ‘n klein gedeelte van die groen Springbok-rugbytrui wat Hendrik ten tye van sy dood aangehad het, was sigbaar in die vuil water.
Elain is op die toneel bygestaan toe haar man se liggaam na al die angsvolle ure ontdek is. Die egpaar was 18 jaar getroud maar het mekaar vir 20 jaar geken.
“Hendrik was iemand wat oor die weggekom het met almal. Ons het ‘n vermoede wat aanleiding kon gee tot sy dood maar ons sal laat die gereg sy gang gaan en ek hoop en bid net dat die skuldige persoon of persone aangekeer sal word.”
Die area, wat aan die Brakpan Spoorwegstasie grens, is bekend daarvoor dat dit ‘n wegkruipplek vir leeglêers, haweloses en kriminele is.
Daar is al menigmale in die verlede gepoog om die mense wat onwettig daar woon, sommige in gate, te verwyder.
Hy laat ‘n leemte
Hendrik se dood laat sy vrou nou met groot finansiële kommer. Hy het onlangs eers, nadat hy werkloos was, weer begin werk en moes nog sy eerste salaris ontvang.
Elain werk tans nie en is nog nie seker hoe sy die pad vorentoe gaan aanpak nie.
Van Zyl het ‘n nagwaak gereël wat vanaand om 19:00 op die hoek van Good- en Northdenestraat sal plaasvind.
Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak om Elain in hierdie tyd te ondersteun, kan dit tydens die nagwaak oorhandig.
“Ons hou die nagwaak ter ere van Hendrik maar ook om saam te staan teen die kriminele bedrywighede en dwelmmisbruik in die dorp,” het Van Zyl gesê.
Read original story on brakpanherald.co.za