Man van Groot-Brakrivier sterf byna 10 dae ná pik-aanval
Drie Jack Russels het by hulle eienaar gewaak nadat hy deur 'n onbekende getal verdagtes met 'n piksteel aangerand is.
‘n Bejaarde inwoner van Groot-Brakrivier, Colin Bone, wat vermoedelik op 17 September op sy hoewe met ‘n piksteel aangerand is, is gister weens sy beserings oorlede.
Bone, wat in sy laat 70’s was, se buurman het die volgende dag op hom afgekom waar hy ernstig beseer was.
Sy drie Jack Russels het by hom gewaak.
‘n Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat Bone met onder meer ‘n piksteel oor sy kop geslaan is. Daar was ook ‘n bebloede klip op die toneel. Hy is vanaf die George-hospitaal na die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Sy wit Opel Astra en sy selfoon is gesteel en ‘n 29-jarige man is kort daarna in Villiersdorp in hegtenis geneem.
Die voertuig is ook in dié gebied teruggevind.
Die verdagte het die afgelope Maandag vlugtig op Groot-Brakrivier in die landdroshof verskyn op ‘n aanklag van huisroof en poging tot moord.
Die saak is uitgestel tot 2 Oktober en die aanklag van poging tot moord sal nou verander word na moord.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com