Bekende sakeman van Mbombela buite Hazyview doodgeskiet
Adriano dos Santos is vanoggend, 29 September, buite Hazyview in wat sommige bronne vermoed ’n sluipmoord is, doodgeskiet.
‘n Bekende sakeman van Mbombela, Adriano dos Santos (35), is vanoggend naby Hazyview in Mpumalanga doodgeskiet.
Dos Santos het enkele maande gelede Hoedspruit toe getrek.
Hy het glo vanoggend ’n vergadering met iemand in Hazyview gehad. In hierdie stadium is dit nie bekend waaroor die ontmoeting gehandel het nie. Dos Santos het enkele kilometers buite die dorp op die Hazyview/Witrivier-pad by ’n voertuig stilgehou.
Sy vriendin, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, en kinders was saam met hom in sy voertuig.
Hy het uitgeklim om met die mense in die ander voertuig te praat. Verskeie skote het kort daarna geklap, en hy is in die kop geskiet.
Die moordenaar het in sy voertuig gespring en weggejaag. Volgens bronne met insae in die moord, maar wat anoniem wil bly, bestaan daar ’n moontlikheid dat die aanslag op Dos Santos se lewe moontlik ’n sluipmoord kon wees.
Hy was tot enkele maande gelede saam met sy broer, Jaco, betrokke as mede-eienaars van die Shell-motorhawe in Ferreirastraat. Jaco se vrou, Lizani, het die moord bevestig.
Sy sê alles is nog deurmekaar, en hulle weet self nog nie presies wat gebeur het nie. Die geskokte kinders wat op die toneel was, is tans in haar sorg.
Adriano se eksvrou, Marelize, is tans op die moordtoneel en kon nog nie verder met Laevelder praat nie.
Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice het bevestig dat hy genader is om te help met die moord ondersoek.
Read original story on www.citizen.co.za