Borgtog geweier vir 2 wat glo jong vrou van Lydenburg doodskiet

'n Groot groep gemeenskaplede het gister die hofverrigtinge van die Megan Griesel-moordsaak bygewoon.

Die borgaansoek van twee mans, beide 27, wat vir die moord op Megan Griesel (20) in hegtenis geneem is, is gister geweier.

Sowat 150 besorgde inwoners ter ondersteuning van die saak het gister by die Lydenburg-landdroshof opgedaag.

Die mans se saak is tot 16 Januarie 2024 vir verdere ondersoek uitgestel. Hulle staan ook op sake van besigheidsroof, gewapende roof en die oortreding van die plofstofwet tereg.

Griesel is op 21 Oktober om ongeveer 00:40 in ’n koeëlreën dood toe ’n roofbende op haar motor geskiet het.

Sy was op pad na haar ouerhuis by Sterkspruit Falcon Estate waar haar pa, Stephan, reeds by die hek vir haar gewag het. Haar selfoon het doodgegaan terwyl hy met haar gepraat het.

Gemeenskapslede voor die Lydenburg-landdroshof. Foto’s: Lorinda Kapp.

Hy het onmiddellik na die verkeersirkel by The Heads-winkelkompleks gery, sowat 200m van hul huis, waar hy die skote gehoor het en op sy dogter afgekom het. Die paramedici het haar op die toneel dood verklaar.

“’n Polisietaakmag het op 1 November die een verdagte naby Masoyi, buite Witrivier, in hegtenis geneem. Hy het op 2 November in die Lydenburg-landdroshof verskyn. Nog ’n verdagte is op 2 November in KaNyamanzane in hegtenis geneem en het op 3 November in die KaBokweni-landdroshof verskyn,” het Kolonel Donald Mdhluli, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.

Mdhluli sê dat ’n bykomende nege verdagtes moontlik binnekort nog in hegtenis geneem kan word.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button