Mpumalanga seun kritiek na hy in kop geskiet is

Die seun is na bewering op die badkamervloer in sy ouerhuis in ‘n plas bloed aangetref.

Terwyl ‘n negejarige seun van Witrivier gehospitaliseer is nadat hy deur die kop geskiet is, hang daar kwelvrae oor wat van die skieter geword het.

Die seun is gisteroggend omstreeks 11:00 in sy ouerhuis geskiet.

Volgens die polisie was die seun en sy twee ouer broers alleen by die huis.

Brig. Selvy Mohlala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, sê volgens die seuns het hulle ‘n lawaai buite die huis gehoor. Die ouer seuns is na buite, en toe hoor hulle ‘n skoot klap.

Volgens ingeligte bronne wat op die toneel was, is die seun aangetref waar hy in ‘n plas bloed met ‘n skietwond deur sy kop op die badkamervloer gelê het.

Sy pa het glo kort na die skietery by die huis opgedaag, sy seun van die vloer af opgetel en hom in een van die kamers op die bed neergelê.

Hier het paramedici van die Securicon Ambulansdiens en ER24 hom behandel. Twee klein gaatjies in sy kop dui daarop dat die projektiel hom in die voorkop getref het en agter by die skedel uit is.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat hy op ‘n kort afstand geskiet is.

Tydens die ondersoek op die toneel het die polisie op ‘n projektiel afgekom. Hulle het bevestig dat dit ‘n 9mm-patroon was.

Die seun is na Mediclinic Nelspruit oorgeplaas waar hy ‘n noodoperasie ondergaan het.

Tydens die operasie is daar glo stukkies van die skedel wat losgebreek het, uit sy brein verwyder.

Dawie Bronkhorst, voorsitter van die GPF in Witrivier, sê hulle het onmiddellik ‘n noodplan in werking gestel om na die verdagte te soek.

“Volgens inligting is die verdagte in ‘n swart hemp en broek geklee. Hy het vermoedelik in die rigting van die Sabie-pad gevlug. Al die sekuriteitsmaatskappye op die dorp het ingespring en help soek. Daar was in ‘n stadium nagenoeg 40 voertuie wat die paaie gepatrolleer het.”

Bronkhorst sê selfs hommeltuie is in die soektog gebruik.

“Ons is ook besig om videomateriaal van sekuriteitskameras te ontleed om ‘n verdagte te identifiseer. Al die inligting is aan die polisie verskaf,” sê hy.

Liza Bahari, ‘n woordvoerder van Mediclinic, sê die seun word in die intensiewesorgeenheid behandel en dat sy toestand steeds kritiek maar stabiel is.

Die seun se ouers wou nie kommentaar lewer nie.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button