Raaisel hang oor Meyerton-man se moord

Familie en vriende van 'n Meyerton-man soek antwoorde nadat sy liggaam in 'n veld sowat 10km vanaf sy huis gevind is.

Die polisie krap kop oor die raaiselmoord op Lazaro de Bruyn van Riversdal in Meyerton, en daar is nog geen verdagtes vasgetrek nie.

Dit is nou reeds drie weke sedert De Bruyn se liggaam in ‘n veld langs die D1184-pad by Goeiehoek gevind is.

Hy was as vermis aangemeld en ‘n soektog is begin.

Die polisie het bevestig dat daar skietwonde aan De Bruyn se liggaam was en dat ‘n saak van moord ondersoek word.

Vaalweekblad verstaan die plek waar De Bruyn gevind is, is skaars meer as 10km van sy woning in Riversdal.

Die gebrek aan vordering met die ondersoek is besig om familie en vriende van die oorledene te frustreer.

“Alles is nog so duister. As sy oom frustreer dit my,” het Wernhard Pretorius, ‘n familielid, sowat ‘n week gelede aan Vaalweekblad gesê.

Sedertdien is daar nog nie enige ooglopende vordering met die ondersoek gemaak nie, hoewel die polisie volhou dat die saak “ondersoek word” en “die nodige aandag” ontvang.

Vriende en familie meen wat die gebrek aan vordering met die saak selfs meer raaiselagtig maak, is die feit dat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit sekuriteitskameras by al die ingange van die D1884-pad opgerig het.

Die beeldmateriaal word na die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se beheerkamer, wat 24 uur per dag gemonitor word, herlei.

‘n Toring met drie kameras op by die noordelike ingang van die D1884-pad. Foto: Christiaan Cloete
‘n Toring met drie kameras op by die suidelike ingang van die D1884-pad by Goeiehoek. Foto: Christiaan Cloete

“Daar is drie torings op daardie pad met kameras wat in alle windrigtings wys. By elke ingang is daar ‘n kamera.

“Hoe is dit moontlik dat nie een van daardie kameras tot nou toe nog geen beeldmateriaal kon oplewer wat met die saak kan help nie,” wou ‘n familievriend  weet.

‘n Derde toring met twee kameras, een wat noord wys en die ander een suid, langs die D1884-pad by Goeiehoek. Foto: Christiaan Cloete

Vaalweekblad het navrae – in besonder navrae oor al die kameras langs die D1884-pad – aan kapt. Teboho Lephoto, ‘n polisiewoordvoerder, gerig.

Lephoto het in ‘n kort verklaring gesê: “Die hoofondersoekbeampte in die saak het bevestig dat die saak steeds ondersoek word en die nodige aandag ontvang.”

“Ongelukkig is daar sekere aangeleenthede rakende die saak wat ons nie op publieke platforms kan deel nie aangesien dit die ondersoek kan belemmer.”

‘n Sattelietkaart met die posisies van die kameras langs die D1884-pad. Elke moontlike ingang word gemonitor. Foto: Google Earth

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button