Man sterf na hy bilharzia by dam in Pretoria opdoen
'n Man het gesterf nadat hy in Februarie vanjaar bilharzia by 'n Pretoria-dam opgedoen het.
Die familie van Sean Kyle sal hom altyd onthou vir sy sagte hart en positiewe uitkyk op die lewe.
Die 24-jarige Kyle is Dinsdagoggend in die hospitaal oorlede nadat hy in Februarie bilharzia, glo by die Hengelaarsvriend-dam net buite Pretoria, opgedoen het.
Volgens sy suster, Chené Venter, het hy oor die naweek van Valentynsdag by dié dam gekamp.
“Hulle het die naweek daar gekamp, en net voordat hulle wou huistoe gaan toe het Sean se vislyn vasgesit in iets in die water en dit is hoekom Sean toe in die water ingegaan het, om sy vislyn te probeer uit kry.
“Dit het toe vasgesit in n stomp in die water en dit was vol hoeke en ankers en sulke goed, hy dog toe dis ‘n score en vat dit huis toe.”
Kyle het vier dae later pyn in sy lyf begin voel.
“So twee weke nadat hy begin pyn kry het toe kry hy so ‘n uitslag op sy linker skouer en op sy rug, dit het presies aangedui waar die bilharzia hom geaffekteer het.”
Kyle is na baie dokters vir ondersoeke en toetse en uiteindelik opgeneem in ‘n hospitaal in Bloemfontein.
Sy familie het intussen ‘n nadoodse ondersoek aangevra om sodoende antwoorde te kry.
Venter sê hulle glo vas dat Kyle steeds sou lewe indien die dokters en mediese personeel vinniger opgetree het en hom dadelik begin behandel het vir bilharzia.
“Hy was drie keer dokter toe, elke keer was daar net antibiotika gegee en huis toe gestuur. Sean het verskriklik baie pyn gehad, so erg dat hy met tye geskreeu het. Hy het ook opgehou eet.”
Die familie het hom na ‘n staatshospitaal in Pretoria geneem waar hy glo ure later eers ondersoek is.
“Die dokter het vermoed dis dalk bilharzia maar gesê dat hulle moet wag vir die resultate. Hulle het gesê hy moet nege dae later terug gaan vir die uitslae.”
Sy het bygevoeg dat dokters vermoed het dat Kyle Cannabinoïde-hiperemesisindroom (CHS) (Cannabinoid Hyperemesis Syndrome) onder lede gehad het. Dit is ‘n toestand wat soortgelyke simptome as bilharzia het.
Hierdie sindroom is skaars en kom net voor by daaglikse langtermyngebruikers van dagga.
“Ons sou dit kon glo want Sean het elke aand voordat hy gaan slaap het dagga gerook. Dit het hom beter laat slaap.”
In die nege dae het Kyle se toestand vererger. Hy is terug na die hospitaal waar hy glo na ‘n hele dag van in rye sit en wag teen 21:00 ingelig is dat die dokters nie weet waar sy bloeduitslae is nie.
“Die familielid waar hy by gebly het het hom toe n paar dae na dit ongevalle toe gestuur en toe neem hulle daar n paar behoorlike buisies bloed, en hulle het vir hom pyn medikasie gegee en hom gesê hy moet ook so nege dae later terug kom vir die uitslae. Nege dae later het hulle ook die bloed uitslae verloor.”
Die familie het besluit dit sou die beste vir hom wees om in Bloemfontein by sy broer te gaan bly met die hoop om beter mediese hulp van die staatshospitale kan kry.
By ‘n Bloemfonteinse staatshospitaal is daar deur middel van ‘n toets vasgestel dat Kyle bilharzia het.
Venter sê volgens ‘n dokter het sy organe baie skade opgedoen, spesifiek sy niere.
“Hulle het gesê dat hy nooit weer rerig ‘n normale lewe sal kan hê nie en altyd afhanklik sal wees van dokters.”
Ten spyte van die behandeling teen bilharzia is Kyle Dinsdagoggend omstreeks 04:35 in die hospitaal oorlede.
“Seanie het regtig soveel lewe in hom gehad. Hy was glad nie skaam nie, kon by n plek inloop en almal laat voel asof hy hulle beste vriend was, maar hy het dit bedoel.”
Sy sê hy het ‘n sagte hart gehad en ‘n positiewe mens.

“Hy was al klaar ‘n pa, nie want al het hy nie kinders gehad nie, het hy al die dad-jokes bemeester.
“Hy was iemand wat jy by jou sal wil hê regdeur jou lewe, en nou dat ons nie daai kans gaan kry nie, is hy iemand wat jy altyd by jou sal dra in jou hart en n beter mens sal wees as gevolg daarvan.”
Sy begrafnisreëlings word nog gefinaliseër.

Die eienaar van die betrokke dam, Dries Kemp, was geskok om te hoor van Kyle.
Kemp sê die moontlikheid bestaan dat daar bilharzia in die dam is maar dat dit die eerste geval is waarvan hulle kennis dra.
Hy het sy medelye aan die familie oorgedra.
Volgens Health-E News, kan bilharzia verskeie dele van die liggaam soos die longe en brein aantas en alhoewel dit nie onmiddellik dodelik is nie, kan komplikasies langtermyn voortduur.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is bilharzia een van die twee mees verwaarloosde tropiese siektes, beide akuut en chronies.
Simptome verskyn soos die liggaam op die teenwoordigheid van die parasiet reageer en dit is veral gevaarlik aangesien dit interne organe kan beskadig.
By kinders kan dit lei tot verminderde groei en probleme met kognitiewe ontwikkeling.
Hier is die simptome van bilharzia:
Na kontak met varswaterliggame soos damme, kan ‘n uitslag of jeukerige vel (swemmer se jeuk) voorkom. Dit vestig gewoonlik spontaan.
Binne nog ‘n maand of twee kan ‘n persoon wat besmet is moegheid, koors, kouekoors, hoes, spierpyne, buikpyn, diarree, disenterie en bloed in die urine ervaar.
Hierdie fase val saam met die rypwording van die wurms in die liggaam.
Read original story on www.citizen.co.za