Student in Bloemfontein se moord: 4 weer in hof
Thato Molaudi (19) is op 9 April op pad na die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie toe, aangerand.
Vier verdagtes sal vandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van moord en aanranding ná die dood van ’n student van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein.
Tumelo Monyane (27), Thabang Mabesa (25), Neo Molefe (23), en Thato Mahlomela (20) is almal op borgtog van onderskeidelik R500 en R1 000 vrygelaat. Die saak is voorheen vir verdere ondersoek uitgestel.
Thato Molaudi (19) is 20 April in Viljoenskroon ter ruste gelê nadat hy op 9 April op pad kampus toe aangerand is.
“Die vier beskuldigdes is op borgtog van R500 (beskuldigdes 1 en 3) en R1 000 (beskuldigdes 2 en 4) vrygelaat,” het Mojalefa Senokoatsane, die NVG-woordvoerder van die Vrystaat, voorheen gesê.
Die vier se eerste hofverskyning was op 11 April nadat hulle kort ná die aanval in hegtenis geneem is.
Molaudi is in King Edwardstraat aangerand op pad kampus toe, waar hy sou tou staan sodat hy sy NSFAS-toelaag kon verifieer.
“Dit is tragies dat die lewe van ’n jong persoon so voortydig beëindig is en nog ’n jong mens ernstig beseer is. Die universiteit sien hierdie voorval in ’n baie ernstige lig,” het SUT-woordvoerder Seithathi Semenokoatsane vroeër gesê.
“Die universiteit sal voortgaan om saam met sy beskermingsdienste, SAPD, en ander sekuriteitsverskaffers in die gebied te werk om maniere te vind om veiligheid vir ons studente, in die besonder, en die gemeenskap in die algemeen te verbeter.”
‘n Derdejaarstudent, Lerato Khobeni, is ook daardie oggend aangerand en is in die hospitaal behandel en ‘n paar dae later ontslaan.
Lees die oorspronklike berig op OFM Nuus.
Read original story on www.bloemfonteincourant.co.za