Die room van akteurs vanjaar op die Innibos-verhoog te sien

Van Sandra Prinsloo en Je-ani Swiegelaar tot Zak Hendrikz en Ben Albertyn – toneelliefhebbers gaan bederf word by vanjaar se kunstefees.

Van die room van Afrikaanse akteurs is vanjaar op die verhoog by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees. In ’n uiteenlopende verskeidenheid toneelstukke is onder andere Sandra Prinsloo, Rika Sennett, Adriaan Havenga, Cindy Swanepoel, Je-ani Swiegelaar, Louw Venter en Ben Albertyn te sien.

Innibos Kunstefees word van 27 tot 30 Junie in Mbombela gehou.

’n Tema wat in meer as een van die stukke aan die bod kom, is verhoudings, hetsy tussen pa en seun (Albatros), vreemdelinge wat meer van mekaar weet as te wagte (Forte), met die verlede en die self (Die Vrou op die Dak) en tussen ’n egpaar wat soos ’n Siamese tweeling aan mekaar gegroei het en nie weet hoe om die toekomstige pad afsonderlik aan te pak nie 1 (Een).

Sandra Prinsloo en David Ralph Viviers lewer ’n kragtoer in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Dié ellelange titel verklap iets van die oorgang na die hiernamaalse wat toe glad nie so glad verloop vir die karakter Nora (Prinsloo) nie, maar eerder voel soos die administratiewe chaos van ’n staatsdienskantoor.

Viviers is ’n wenner van onder meer ’n Fleur de Cap-toneelprys, en het verlede jaar ook sy eerste roman die lig laat sien. Sy spel in dié stuk het teatergangers by vanjaar se KKNK se asem weggeslaan.

In 1 (Een) laat val Cindy Swanepoel haar mantel as sepiester en pak sy saam met Zak Hendrikz ’n komiese en magiese teaterstuk aan onder die ervare regie van Henriëtta Gryffenberg. Hulle is die paartjie Hiss and Hirr wat so aan mekaar vasgegroei het en noudat hulle wil skei, is dit ’n hengse probleem. Dit is tong-in-die-kies besinning oor of die mens ooit bestem is om sy ander helfte te vind.

Je-ani Swiegelaar is Die Vrou op die Dak wat haar lewe in oënskou moet neem wanneer sy alles – van man tot huis – gaan verloor. Tussen die bakleiery met die huisslopers, haar bure en omstanders is die huis se dak haar toevlug. Daar lyk die blik op die wêreld darem anders, en bied dit dalk ’n uitkoms. Swiegelaar se spel in dié stuk is beskryf as ‘niks minder as buitengewoon en voortreflik nie’.

Daar was al heelwat verhoogdramas oor ma’s en dogters, maar minder oor die verhoudinge tussen pa’s en seuns. Dit kom onder die loep in Albatros met Louw Venter en Ben Albertyn waar die twee mans woorde probeer vind terwyl hulle saam aan ’n boot bou. Dit is een van die vlagskipproduksies by vanjaar se Innibos.

Rika Sennett se toneel ervaring kom tot sy volle reg in die drama Forte saam met Adriaan Havenga. Havenga, op sy beurt, is geen groentjie nie en IS in 2023 bekroon met twee Fiësta-toekennings. Hy was ook al te sien in episodes van Die Byl, Lui maar op Belinda en verskeie ander produksies. In Forte is hy ’n vreemdeling wat by ’n wêreldbekende tjellis (Sennett) se deur opdaag met ’n geheim wat hy diep bewaar.

Die volledige Innibos-program is op innibos.co.za. Klik daar op die Ticketpro-skakel om kaartjies te bespreek.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button