Verkiesing 2024: VF Plus glo ‘n regering van nasionale eenheid is dalk op die tafel
Leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sê dis die eerste keer sedert 1994 wat die ANC nie meer sy meerderheid kan misbruik nie.
‘n Baie tevrede leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, sê hy sien uit na die sewende parlementsitting wat voorlê.
Hy het met Caxton Local Media by die Onafhanklike Verkiesingskommissie se uitslagsentrum gesels en gesê sedert 1994 sal dit die eerste keer wees wat die ANC nie meer sy meerderheid kan misbruik om die parlement as ‘n rubberstempel te gebruik nie.
Groenewald sê die ANC gaan ook nie meer hul leiers kan beskerm nie en een van die eerste dinge wat hy beoog om te doen is om te vra dat die paneelverslag oor die Phala-Phala aangeleentheid weer by die Nasionale Vergadering ingedien word sodat behoorlike aandag daaraan gegee kan word.
Die VF Plus het oor die tydperk van ‘n dekade ‘n netto toename in sy getal stemme gehad het en Groenewald sê die party sal voortgaan om standvastig en met respek in die parlement op te tree.
Die daling in die VF Plus se stemme kan waarskynlik toegeskryf word aan kiesers wat na die DA migreer het en hiéroor het Groenewald gesê dat die leier van die DA, John Steenhuisen, op vrees-politiek staatgemaak het deur veral die EFF as die grootste gevaar in die land te tipeer.
In ‘n onderhoud, kort voor die finale uitslae bekend gemaak is, het Groenewald gesê hy is van mening dat President Cyril Ramaphosa ‘n regering van nasionale eenheid mag vorm en verskeie partye mag nader om deel te wees hiervan.
Kyk hiér na die volledige onderhoud met Groenewald:
Read original story on www.citizen.co.za