Geliefdes groet Hartbeespoort-ontwerper wat ná fratsongeluk sterf
JJ Herbst (26) was vir 14 weke in hospitaal met ernstige brandwonde en ander komplikasies nadat hy in ‘n bad warm water geval het.
‘n Gedenkdiens word vandag in Potchefstroom gehou vir bekende Hartbeespoort modeontwerper, JJ Herbst (26).
Hy is verlede Vrydag oorlede ná hy in Maart tydens ‘n fratsongeluk in ‘n bad warm water geval het. Hy was die afgelope 14 weke in ‘n hospitaal met ernstige brandwonde en ander komplikasies.
Volgens Herbst se verloofde, Juran Botes, het JJ op 18 Maart ‘n bad water getap en terwyl die water inloop is hy kombuis toe en het ‘n glas wyn geskink.
“Toe hy oor die bad leun om die warmwaterkraan toe te maak, het sy voete gegly en hy het in die bad warm water geval. Die wynglas het gebreek en sy arm lelik gesny. Hy het my vertel dat hy nie uit die bad kon kom nie en het om hulp geskree. Ek was nie tuis nie, maar my ma het die gille gehoor en gaan ondersoek instel. Die water was so warm dat sy hom nie kon uitkry nie en sy moes my pa gaan roep.”

Die paartjie het by Botes se ouers in die Ifafi woonbuurt gewoon.
Herbst is met derdegraadse brandwonde in ‘n hospitaal opgeneem en ‘n operasie ondergaan om die senuwees in sy beseerde arm te heg.
“Sowat 70% van sy liggaam was verbrand. Hy was deurgaans in geweldige pyn. Hy het twee veloorplantings ondergaan. Dit het net gelyk of hy beter word toe hy ‘n week voor sy dood ‘n infeksie in die hospitaal opgedoen en longontsteking gekry het. Uiteindelik het sy hart net ingegee, sy lyf kon dit nie meer hou nie,” het Botes gesê.
Herbst was ‘n vennoot in die bekende Esje’s Design en het in 2020 ‘n tak in Hartbeespoort geopen. Hy het vir verskeie bekende persoonlikhede klere ontwerp.
Herbst en Botes het verlede jaar verloof geraak na ‘n verhouding van ses jaar. “Net voor hy infeksie gekry het, het dinge beter gelyk en hy het gedroom van huis toe kom. Hy wou by my en ons katte wees.”
Read original story on kormorant.co.za