Ermelo-man word wakker met mes teen sy keel
Deur die hek van die spoor af te tel en die motorhuisdeur oop te breek, het twee aanvallers toegang tot 'n man se huis verkry.
‘n Inwoner van Groblerstraat in Ermelo is gister omstreeks 03:00 in sy huis in ‘n woonstelkompleks aangeval.
Die twee aanvallers het die hek na die kompleks van die spoor afgetel en die motorhuisdeur oopgebreek, en toegang tot die huis verkry.
Een van die aanvallers het die man op sy bed vasgedruk, ‘n mes teen sy keel gedruk en kontant en vuurwapens geëis.
Die tweede rower het die huis deursoek en geplunder.
Volgens Kaptein Carla Prinsloo, die plaaslike polisiewoordvoerder, het die verdagtes ‘n klompie items gebuit en te voet gevlug.
Die inwoners se verhuurder kon glo nie die polisie in die hande kry nie en het Acsu Sekuriteit se beheerkamer geskakel, wat reaksiepersoneel na die toneel ontbied het.
Die man is nie tydens die rooftog beseer nie.
Die polisie is later die oggend na die toneel ontbied en ondersoek ‘n klag van huisroof.
Read original story on www.citizen.co.za