Wes-Kaapse ma erken sy vermoor seun (7), ‘sien sy pa in sy gesig’
’n Vrou van Oudtshoorn moet einde November weer in die hof verskyn nadat sy glo beken het dat sy haar eie kind vermoor het.
Drezene Jonkerman (39) van Bridgton in Oudtshoorn in die Wes-Kaap, wat daarvan aangekla word dat sy haar sewe-jarige seuntjie vermoor, het gaan in die streekhof verhoor word.
Jonkerman het met haar borgtogaansoek in September vanjaar die wenkbroue laat lig toe sy erken het dat sy haar kind, Ashwin Jonkerman, verwurg het.
Die saak is gister in die landdroshof vir ’n streekhofdatum tot 28 November uitgestel.
Jonkerman het volgens die ondersoekbeampte, adjudantoffisier Wilfred Apollis, ná haar arrestasie op 21 Augustus vanjaar, aan ’n vrouepolisiebeampte, sersant Sharone Flemmer, beken dat sy haar seuntjie verwurg het toe sy glo ‘die kind se pa in sy gesig gesien’ het en besluit het om hom dood te maak.
Sy het glo later agtergekom dat dit haar eie kind was wat aan haar gevra het wat sy doen en dat hy haar liefhet.
Volgens Apollis het Jonkerman aan Flemmer vertel dat sy die oggend van 11 Augustus opgestaan en koffie vir haar seun gemaak het. Daarna wou sy hom was. Nadat sy die waslap met seep gesmeer en die kind se gesig wou was, het sy sy pa in sy gesig gesien en hom begin wurg.
Volgens haar het die kind aan haar gevra, “Ma wat doen jy? Ek is lief vir jou.” Sy het egter voortgegaan en hom daarna op sy bed gaan neerlê met sy gesig na die muur, en haar verder gaan regmaak vir kerk.
Toe sy later die kind weer oopmaak het sy glo besef dat dit nie die pa is wat sy vermoor het nie. Sy het uit die huis gehardloop en haar buurvrou gevra om ‘n ambulans te bel.
Volgens Apollis was Jonkerman in die dae na haar bekentenis baie hartseer en het ook baie gehuil.
Oudtshoorn Courant het vroeër berig dat Jonkerman tydens ’n vroeëre hofverskyning geantwoord het dat sy in 2022 een van haar ander kinders, ’n tweejarige, verwurg het.
Landdros Zuastrid Deyce het bevind dat Jonkerman in aanhouding moet bly omdat sy nie die hof oortuig het om borgtog aan haar toe te staan nie.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com