Man (22) in hegtenis ná mesaanval op hond in Oudtshoorn

'n Jong man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering 'n hond in Riemvasmaak met 'n mes aangeval het, wat verontwaardiging onder die gemeenskap ontlok het.

‘n 22-jarige man is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hy na bewering op 6 Desember ‘n tweejarige Amerikaanse veghond (pit bull) in Riemvasmaak, met ‘n mes gesteek het.

Volgens sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, is die man op aanklag van opsetlike saakbeskadiging aangekla.

Die man sou na verwagting Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.

Die hond se eienaars, Anna-Marie Melight en Karel Witbooi, het Maandagoggend ‘n klag by die Oudtshoorn-polisie aanhangig gemaak.

Witbooi verduidelik dat hy en Melight verlede Vrydagaand rustig in hul huis was toe hulle iemand oor die heining sien spring.

“Voor ons kon reageer, was hy in die erf. Jessie het ‘n vreeslike tjank gegee, en toe ons buite kom, het die man weer oor die muur gespring en gevlug. Toe sien ons Jessie is gesteek. Sy is nie vasgemaak nie, want sy is glad nie aggressief nie.

“Hy het geen rede gehad om haar aan te val nie. Sy kom nie buite nie. Sy terroriseer niemand nie. Ons ken nie eens die man wat dit gedoen het nie. Hy het saam met ‘n groep kinders weggehardloop,” sê Witbooi.

Omdat hulle nie geweet het wie om vir hulp te nader nie, het hulle Saterdagoggend by die Oudtshoorn-diereherberg gaan hulp soek.

Ansa de Jager, stigter van die diereherberg, het Jessie se wond behandel en antibiotika toegedien. Sy het ook kos gegee, maar omdat dit ‘n diep wond was het sy hulle aangeraai om haar so vinnig moontlik by ‘n veearts te kry vir die nodige mediese behandeling.

Jessie is toe na die Oudtshoorn-dierekliniek geneem waar sy oornag opgeneem is om te verseker dat geen verdere skade of infeksie intree nie. Sy is Maandag ontslaan.

Witbooi en Melight het daarna die identiteit van die aanvaller deur mense in die omgewing bevestig en die voorval by die polisie aangemeld.

“Hy het ons erf onwettig betree en ons hond seergemaak. Dit is dieremishandeling,” sê Witbooi.

Die veearts se koste het vir die eienaars ‘n finansiële uitdaging geword, maar hulle vertrou dat die polisie die saak verder sal hanteer. Hulle sê hulle kan nie verstaan wat die aanvaller gemotiveer het om Jessie met ‘n mes te steek nie.

Volgens Jessie se eienaars gaan dit beter met Jessie en sterk sy goed aan.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button