Mosambiek-rit neem ‘n verkeerde draai vir Carletonville-gesin
’n Familiegroep van Carletonville se vakansie na Xai-Xai in Mosambiek het nooit werklikheid geword nadat hulle by padversperrings geteister is en omkoopgeld hulle duur te staan gekom het.
- Hierdie berig is aangepas vandat dit aanvanklik gepubliseer is.
Na ‘n besige jaar, het Jaco en Samantha Gouws baie na ’n Desember-vakansie by Xai-Xai in Mosambiek uitgesien.
Min het hulle geweet wat vir hulle voorlê – ’n nare-ondervinding wat hulle sou moes deurmaak.
Hulle groep van drie voertuie waarin Jaco se broer, ouers, drie kinders jonger as 12 en ’n 16- en 18-jarige was, se plan was om 24 Desember te vertrek.
Die nuus dat die Mosambiekse Konstitusionele Raad op 23 Desember die uitslag van die ondersoek oor die Oktober-verkiesings sou bekendmaak, asook die beplande ‘4×4-fase’-protesaksie se aankondiging deur Venâncio Mondlane van die Optimistic Party for the Development of Mozambique (Podemos) kort hierna, het hulle van plan laat verander.
Jaco sê hulle het besluit om baie vroeg op die 23ste in die pad te val met die hoop dat hulle veilig by hul bestemming sou wees voor die aankondiging gemaak sou word.
Weens paspoortprobleme is hulle rit met drie ure vertraag en is die groep eers 13:00 deur die eSwatini- en Namaacha-grenspos.
In ’n onderhoud met Caxton Network News maak Jaco dit uit die staanspoor duidelik dat hy nie sensasie soek nie en dat hulle beslis nie slagoffers is nie. “Ons het ’n geleentheid gesien, geweet van die risiko en ’n besluit geneem. Ons het wel slegter omstandighede ervaar as wat ons verwag het en sal die gevolge daarvan dra en dit as ’n lewensles sien.”
Die rit begin
Jaco sê die eerste halfuur van hulle rit was vreedsaam, al was daar klein blokkades. Hier moes hulle soms net R20 betaal om verder te ry. Die groep, bestaande uit twee Land Rover Defenders en ’n Volvo XC90, was met tweerigtingradio’s in verbinding met mekaar. “Dit het ons baie gehelp in die situasie waarin ons beland het.”
Hulle het besluit om ’n grondpadroete van ongeveer ses ure te neem, wat die EN1 en EN4 grootliks uitskakel. “Die pad was baie sleg en daar was heelwat taxi’s wat dieselfde opsie gebruik het.”
Teen die tyd wat dit donker geword het was die groep terug op die teerpad, en hoewel daar blokkades was, het hulle nie bedreig gevoel nie. “Ons het met die groepe onderhandel. Hoe later dit geword het, hoe meer was die mense onder die invloed.”
Draai om anderkant Macia
Hulle is deur Macia en met slegs 50 km oor tot by Xai-Xai, is hulle deur ’n groep gestop wat gesê het hulle mag nêrens heen gaan nie. “My broer was voor en ons het duur fietse agterop sy voertuig gehad. Die leier het gesê as ons vorentoe of agtertoe gaan, is ons dood. ’n Man het ’n pyl en boog in sy gesig gedruk en die vrouens is beledig.”
Jaco-hulle het besluit om eerder om te draai. “Ons het heeltyd gesorg dat ons goeie afstand hou tussen ons, sodat ons vinnig kon omdraai as ons moet,” verduidelik hy. Hulle is terug na Macia se polisiestasie en het daar skuiling en slaapplek gaan soek.
Die groep het deur die nag skote gehoor, en teen 06:30 het hulle met die polisiebevelvoerder gesels om te hoor of daar enige nuus uit Xai-Xai se kant was. Hulle het besluit om die kort entjie weer aan te pak.
“Alles was rustiger, die gemors was uit die paaie gesleep presies tot by die blokkade waar ons moes omdraai. Dieselfde groep was steeds aktief en al die ander voertuie is toegelaat om deur te ry, behalwe ons.”
Dit was die finale strooi, en daar is besluit om eerder terug te keer Suid-Afrika toe.
Die pad was rustiger – tot hulle die laaste gedeelte van die grondpad getref het.
“Teen dié tyd het oproeriges al uitgewerk baie verkeer gebruik dié ompad, en daar was heelwat meer blokkades. Ons het maar betaal en aangery. Sowat ’n uur voor die grens het ons met ’n jong man wat by ’n versperring was onderhandel, en hy het aangebied om die res van die pad saam ons te ry en te help dat ons uitkom.”
Dinge het vir ’n ruk lank beter verloop, en die onderhandelaar het namens hulle die praatwerk gedoen. Omkoopgeld het so R200 tot R300 per versperring gekos.
In ’n stadium wou die jongman uitklim, maar Jaco-hulle het vir hom gesê hy moet by sy onderneming bly om enduit saam te ry.
“Die probleem is, by elke versperring sê die groep, ‘daar is nog twee oor,’ en dan as dit verby is, kom daar maar net nog by. ’n Mens weet ook nie waar om dit te verwag nie. Om elke draai word jy verras.”
Die einde is in sig
Sowat vier kilometer van die Namaacha-grenspos het die groep begin asem skep en gedink als is amper verby.
“Ons het in ’n klein dorpie gery en sien toe sowat 500 mense in die pad. Ons het ’n ent daarvandaan gestop en die volgende oomblik, toe jaag hulle met motorfietse op ons af. Die jong outjie saam met ons het met hulle probeer onderhandel, toe word hy aangerand.
“Die groep wou R2 000 hê, maar ons het nie veel geld oorgehad nie. Ons het vir twee dae byna niks geslaap nie, was heeltyd op die pad en het wel brandstof ingegooi, maar dinge het begin taai raak.
“Daar was nie ’n kitsbank naby nie. Ons het ’n elektroniese bankbetaling probeer maak wat nie gewerk het nie, en almal het begin raap en skraap, en tussen die drie voertuie kon ons R2 000 bymekaarmaak.”
Teen dié tyd was daar tot 10 mense op elke kar wat op die voertuigkap getoyi-toyi het, teen die ruite geklap het en op die karre se dakke gespring het.
“Daar was drie polisiemanne naby, maar hulle kon niks doen nie. Toe ek nader stap om een van die polisiemanne te vra om ons te help, het hy gesê dat ek saam die voertuig verbrand sou word.”
Toe die groep daar ry was almal bang en gedaan. Maar 300 m voor die grenspos, waar hulle die toe hek en hekwagte kon sien, is hulle weer gestop.
Jaco vertel daar was staalversperrings in die pad en bande aan die brand. Hulle het dieselfde modus operandi in die gesig gestaar.
Dié keer het hulle R3 000 geëis, maar die groep het nie ’n sent oorgehad nie.
Na onderhandeling het die groep toegelaat dat Jaco deur die grens kon gaan, geld by ’n vulstasie in eSwatini kon trek en weer terugkeer en hulle betaal.
“Die res van ons groep moes agterbly om seker te maak ek kom terug. Ek moes deurloop en aan die grensowerhede die situasie verduidelik, die geld gaan trek en terugstap om dit te oorhandig. Die proses het sowat 45 minute geduur.”
’n Onderonsie het tussen die groep se leier en die res uitgebreek, want hy het R1 500 in sy eie sak gesteek. Soos wat iemand die versperring oopmaak, maak ’n ander dit weer toe. Die groep het stadig deur die blokkade gery met so 10 mense op hul motorkappe, terwyl die oproeriges steeds probeer om die pad te versper en nog geld te kry.
By die grens het die hekwagte gedreig om die oproeriges te skiet, en het die hek net groot genoeg oopgemaak dat hulle kon deurkom.
Jaco sê tans bekommer hy hom net oor die Suid-Afrikaners wat steeds in Mosambiek is en moet terugkom. Hulle het sowat R10 000 aan omkoopgeld spandeer. Daar is ook heelwat skade aan al die voertuie wat nie deur versekering gedek word nie. “Niemand verdien om so behandel te word nie.”
Suid-Afrika monitor grense
Die departement van verdediging en militêre veterane het by monde van hul woordvoerder, Siphiwe Dlamini, gesê die weermag doen roetinepatrollies op die grensgebiede met Mosambiek, maar het geen ekstra manskappe ontplooi nie.
Hulle wag nou op verdere opdragte oor die rol wat die weermag in die nabye toekoms moet speel.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het by monde van hul segsman, Chrispin Phiri, gesê Suid-Afrika het nie hul ambassade in Maputo ontruim nie en daar is tans geen planne om dit te doen nie. Phiri sê die oorgrens-beweging van mense en goedere word baie noukeurig gemonitor en hommeltuie word ingespan om te help met die taak.
Blokkades tydens die hoogtepunt van die protesaksie in Mosambiek:
Video: Realidade Moçambique/Facebook
Video: Livenews48
Video: Nossa Moçambicanidade/Facebook


Xinavane kruising. Foto: Facebook
Read original story on www.citizen.co.za