Mosambiek-tragedie: 3 van Centurion verdrink, 1 oorleef

’n Vakansie in Xai-Xai het in tragedie geëindig toe drie volwassenes deur ’n seestroom by die Wenela-blaasgat meegesleur is. Die enigste oorlewende is nou verantwoordelik vir haar twee kinders én dié van haar broer en skoonsuster.

Wat ’n sorgvrye vakansie aan die kus van Mosambiek moes wees, het eergister in tragedie geëindig toe drie volwassenes van Centurion die middag in ’n noodlottige seestroom by die Wenela-blaasgat buite die dorpie Xai-Xai in Mosambiek meegesleur is.

Die 43-jarige Lelani Louw is die enigste oorlewende. Haar man, Chris Louw (’n bestuurder by ExecuJet), haar broer André Kritzinger en haar skoonsuster, Monique, het omgekom.

Lelani het met Pretoria Rekord gepraat waar sy tuis was in Centurion. Sy en die kinders van beide egpare is op gister per vliegtuig deur ExecuJet teruggebring.

Volgens haar was die groep, wat uit die twee egpare en hulle vier kinders bestaan het, op ’n daguitstappie by die Wenela-blaasgat, ongeveer 5km vanaf die Go Wild-vakansieoord waar hulle tuisgegaan het.

Die laaste foto wat van die gesinne in Mosambiek geneem is. Foto: Verskaf

Terwyl sy en die Kritzingers in die getypoel voor die rif gestaan en gesels het, het ’n sterk seestroom hulle skielik verras.

“My skoonsuster het ’n paniekaanval gekry toe die stroom haar intrek,” vertel Lelani. “Ek kon op my rug dryf, al het die water oor my gespoel. Ek het die hele saak aan die Vader oorgegee en kon mettertyd uitswem.”

Haar man, Chris, het die nood vanaf die strand opgemerk en het in die water ingegaan om hulp te verleen, maar is self deur die stroom meegesleur. Al sy pogings tot redding was tevergeefs.

Die kinders van die twee egpare: Nicci (19), Christo (16) van die Louw-egpaar, en Ryan (13) en Lika (10) van die Kritzingers het gelukkig nie die tragedie sien gebeur nie, danksy die vinnige ingryping van ander strandgangers wat hulle van die toneel weggeneem het.

Die liggaam van Chris is nog nie gevind nie.

Intussen wag die familie op die voltooiing van lykskouings deur die Mosambiekse owerhede voordat die liggame van die Kritzingers na Suid-Afrika gerepatrieer kan word.

“Dit sal vir ons sluiting bring as my man se liggaam gevind kan word,” sê Lelani emosioneel.

André en Monique Kritzinger. Foto: Verskaf

Lelani, wat 22 jaar lank met Chris getroud was en hom reeds geken het sedert sy 16 jaar oud was, het bevestig dat sy die versorging van die twee Kritzinger-kinders op haar sal neem.

“Die kinders is almal geskok en hul harte is seer,” voeg sy by.

’n Verteenwoordiger van die vakansieoord het aan Rekord gesê dat hy die Wenela-blaasgat al jare lank besoek, en dat hy nog nooit sulke sterk seestrome ervaar het nie. “Ek kan dit net ’n fratsongeluk noem,” het hy gesê.


 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button