Pitbull-honde verskeur huiswerker in Potchefstroom: Egpaar vra dat saak laat vaar word

'n Egpaar wag op die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging se besluit oor die saak waarin hulle honde hul huishulp aangeval het.

Die egpaar wat van nalatigheid aangekla word nadat hul drie pitbull-honde hulle huiswerker verskeur het, rig nou vertoë aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) dat die saak teen hulle laat vaar word.

Potchefstroom Herald berig daar is vroeër vanjaar vertoë aan die Noordwes se direkteur van openbare vervolging gerig, maar dit was onsuksesvol. Dié direkteur het beslis dat die saak moet voortgaan, maar geen redes is tot dusver aan die egpaar se regspan verskaf nie. Die egpaar se regspan het die aansoek gebring omdat hulle glo daar is geen redelike kans op ’n suksesvolle skuldbevinding nie.

Die saak is gister tot 5 Augustus uitgestel, hangende die beslissing van die NDOV oor of die saak teen die Mostert-egpaar laat vaar word.

Chandré en Marno Mostert was nie tuis toe hulle huishulp, Dipuo Kokolosi, in Januarie 2022 deur die drie honde by hulle huis in Kockstraat in Potchefstroom aangeval is nie. Die egpaar se verweer is dat die honde agter ’n hek toegemaak was en dat hulle nie weet hoe die honde uitgekom het nie.

Die honde het haar neus, lip en oorskulpe afgeruk en haar ook aan ander dele van haar liggaam gebyt.

Een van die staatsgetuies, Ziggy Abdullah, ’n buurman, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ’n waarskuwingskoot afgevuur het. Kokolosi het sedert die voorval talle rekonstruktiewe operasies ondergaan.

Die saak is al talle kere om verskeie redes uitgestel, onder andere omdat die hof se opnamemasjien nie gewerk het nie, ’n ekstra klag bygevoeg is, en nuwe aanklaers aan die saak toegewys is. Die ekstra klag spruit uit Kokolosi se bewering dat die honde haar al vantevore gebyt het.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button