Lydenburg-dogter (14) sterf na diabetiese ketoasidose-aanval
’n Tiener is skielik oorlede nadat sy by ’n sportbyeenkoms in Ohrigstad ineengestort het.
Sy het gesing omdat sy dit liefgehad het, gedans met oorgawe, en uit haar maag gelag. Só sal die familie van Eliza Fouché (14) haar onthou.
Eliza is Saterdag skielik oorlede nadat sy ineengestort het langs ‘n rugbyveld in Ohrigstad.
Sy het die dag saam met ’n familievriendin en dié se kinders ‘n sportbyeenkoms bygewoon. Volgens haar pa, Martin, was Eliza vrolik en opgewonde toe sy die huis verlaat.

Tydens die wedstryd het sy egter onverwags flou geword en ineengestort. Paramedici op die toneel het dadelik ingegryp en besluit om haar na Hoedspruit-hospitaal te haas.
Haar ouers, Martin en Bronwyn, is ingelig oor haar toestand en het na Ohrigstad gereis. Volgens Martin was sy aanvanklik steeds in staat om te reageer in die ambulans.
By die hospitaal is Eliza opgeneem en verskeie mediese toetse is gedoen. Die mediese span het bevestig dat sy ’n diabetiese ketoasidose-aanval gehad het.
“Die dokters moes haar sedeer en intubeer om verdere skanderings uit te voer,” verduidelik Bronwyn.
Kort daarna het Eliza orgaanversaking opgedoen, en ondanks die span se pogings om haar te stabiliseer, is sy oorlede.

Volgens haar familie het Eliza geen vooraf simptome van suikersiekte getoon nie, en was sy ‘n gesonde, lewenslustige jong meisie.
Eliza was ‘n leerder van Laerskool Lydenburg en het vanjaar haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Lydenburg begin.
Volgens haar ouers, Bronwyn en De Wet Archer en Martin en Michelle Fouché, was Eliza ’n kind wat vir haar vriendelikheid onthou sal word.
“Eliza het twee pappas en twee mammas gehad wat vreeslik lief was vir haar. Sy was ’n kind met ’n hart van goud,” sê beide egpare.
Boodskappe van troos en liefde stroom steeds in ná haar skielike afsterwe. Vriende en familie onthou haar as ‘n vriendelike, energieke en liefdevolle jong meisie.
Eliza se begrafnis vind more plaas om 11:00 by die Lydenburg Baptistekerk. Sy word oorleef deur haar ouers en haar jonger broers, MJ (12) en Marcel (6) Fouché.
Ná haar afsterwe het Hoërskool Lydenburg ’n in memoriamplasing gedeel op hulle Facebook-blad, waar boodskappe van medelye en steun van die gemeenskap ingestroom het.
Cherise Archer skryf: “Ai my blom, Tannie gaan vir jou verskriklik mis. Sal al ons fun tye koester. Jy het altyd die mooiste maniere en persoonlikheid gehad. Tannie het jou so lief, Sussie. Jy gaan so gemis word. Sterkte, Bronnie en die res van die familie. My hart gaan uit na julle toe. Ek bid dat die Here julle styf sal vashou en deur dié moeilike tye dra.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za