Local news

Lydenburg-dogter (14) sterf na diabetiese ketoasidose-aanval

Eliza se begrafnis vind plaas op Saterdag, 7 Junie, om 11:00 by die Lydenburg Baptistekerk. Sy word oorleef deur haar ouers en haar jonger broers, MJ (12) en Marcel (6) Fouché.

Sy het gesing omdat sy dit liefgehad het, gedans met oorgawe, en uit haar maag gelag. Dit is hoe die familie van Eliza Fouché (14) haar sal onthou.

Eliza is op Saterdag, 31 Mei, skielik oorlede nadat sy ineengestort het langs ‘n rugbyveld in Ohrigstad.

Sy het die dag saam met ’n familievriendin en dié se kinders die sportbyeenkoms bygewoon. Volgens haar pa, Martin Fouché, was Eliza vrolik en opgewonde toe sy die huis verlaat.

Tydens die wedstryd het sy egter onverwags flou geword en ineengestort. Paramedici op die toneel het dadelik ingegryp en besluit om haar na Hoedspruit Hospitaal te haas.

Eliza (regs) saam met MJ Fouché en Bronwyn en De Wet Archer. Foto’s: Verskaf

Haar ouers, Martin en Bronwyn, is intussen ingelig oor haar toestand. Beide gesinne het vinnig na Ohrigstad gereis. Volgens Martin was sy aanvanklik steeds in staat om te reageer in die ambulans.

By die hospitaal is Eliza dringend opgeneem en verskeie mediese toetse is gedoen. Die mediese span het bevestig dat sy ’n diabetiese ketoasidose-aanval gehad het.

“Die dokters moes haar sedeer en intubeer om verdere skanderings uit te voer,” verduidelik Bronwyn.

Kort daarna het Eliza orgaanversaking opgedoen, en ondanks die span se pogings om haar te stabiliseer, is sy oorlede.

Volgens haar familie het Eliza geen vooraf simptome van suikersiekte getoon nie, en was sy ‘n gesonde, lewenslustige jong meisie.

Eliza was ‘n leerder van Laerskool Lydenburg en het vanjaar haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Lydenburg begin.

Lees ook: Nog geen inhegtenisnames ná moord op Lydenburg-pa

Volgens haar ouers, Bronwyn en De Wet Archer en Martin en Michelle Fouché, was Eliza ’n kind wat vir haar vriendelikheid onthou sal word.

“Eliza het twee pappas en twee mammas gehad wat vreeslik lief was vir haar. Sy was ’n kind met ’n hart van goud,” sê beide egpare.

Eliza Fouché (14) is verlede Saterdag, 31 Mei, skielik oorlede nadat sy flou geword het langs ’n sportveld in Ohrigstad. Foto: Verskaf

Boodskappe van troos en liefde stroom steeds in na haar skielike afsterwe. Vriende en familie onthou haar as ‘n vriendelike, energieke en liefdevolle jong meisie.

Eliza se begrafnis vind plaas op Saterdag, 7 Junie, om 11:00 by die Lydenburg Baptistekerk. Sy word oorleef deur haar ouers en haar jonger broers, MJ (12) en Marcel (6) Fouché.

Na haar skielike afsterwe het Hoërskool Lydenburg ’n in memoriamplasing gedeel op hul Facebook-blad, waar boodskappe van medelye en steun van die gemeenskap ingestroom het.

Cherise Archer skryf:
“Ai my blom, Tannie gaan vir jou verskriklik mis. Sal al ons fun tye koester. Jy het altyd die mooiste maniere en persoonlikheid gehad. Tannie het jou so lief, Sussie. Jy gaan so gemis word. Sterkte, Bronnie en die res van die familie. My hart gaan uit na julle toe. Ek bid dat die Here julle styf sal vashou en deur dié moeilike tye dra.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button