Ma en 3 seuns kry tronkstraf vir moord ná bakleiery oor harde musiek
Ná bykans vier jaar in die hof is vonnisse opgelê in die saak waar ’n vrou en drie broers hul buurman in Vereeniging doodgeslaan het en selfs sy honde nie gespaar het nie.
Drie broers en hul ma is Donderdag in die rondgaande hooggeregshof in Benoni tot tronkstraf gevonnis. Hulle het in 2021 ‘n man van Leeuhof in Vereeniging so erg aangerand dat hy later aan sy beserings beswyk het.
Raymond Metz (24), sy ma Lindi Falch (47) en die broers Shane Metz (27) en Simon Anton “Babatjie” Metz (21) is in April 2024 gevonnis vir die moord op Benjamin Lotz (52). Hulle het Lotz op die aand van 22 November 2021 by sy huis gekonfronteer ná ‘n stryery oor harde musiek vroeër daardie aand, berig Vaalweekblad.

Die konfrontasie het ontstaan nadat Lotz vroeër die aand Raymond en sy vriend Estifaan Delport aangerand het tydens ‘n dispuut oor harde musiek.
Die vonnisoplegging het Donderdagoggend, na ‘n lang en uitgerekte hofsaak van bykans vier jaar, voortgegaan.
Regter Carla van Veenendaal het Raymond Metz tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord. Raymond, wat Lotz herhaaldelik met ‘n mes gesteek het, het getuig dat hy ‘n tipe van epileptiese aanval gehad het en nie veel kan onthou nie.
Lindi Falch, die Metz-broers se ma, is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir haar aandeel in die moord. Sy het die aand haar seuns na die oorledene se huis vergesel, en getuienis tydens die saak het aangedui dat sy die seuns glo aangehits het.

Shane Metz, die oudste van die broers, het die fisiese aanval op Lotz gelei en tydens die onderonsie sy skouer beseer. Hy is tot agt jaar tronkstraf gevonnis en het op die aand van die moord sy bes gedoen om die oorledene grond toe te bring.
Simon Anton “Babatjie” Metz, die jongste van die broers, wat maar 17 jaar oud was ten tye van die moord, het vyf jaar tronkstraf gekry. Regter Van Veenendal het in haar uitspraak genoem dat hy uit die bakleiery onttrek het nadat hy ‘n sny aan sy hand opgedoen het.

Oor die aanklag van opsetlike saakbeskadiging het Van Veenendaal gelas dat al vier beskuldigdes gesamentlik R2 000 moet betaal vir die herstel van die oorledene se heining, wat aan sy lewensmaat Johannes Mathys Wynand Willemse behoort.
Oor ‘n bykomende klag oor geweld teenoor diere is geen bevel gemaak nie, aangesien geen aansoek gebring is vir ‘n summiere ondersoek en uitspraak nie.
Twee van Lotz se honde is dood aan beserings wat hulle tydens die wrede aanval opgedoen het. Hulle het net hul baas probeer beskerm.

Hoewel die staat gevra het vir die minimum vonnis vir moord (lewenslank oftewel 25 jaar), het Van Veenendal hiervan afgewyk omdat sy bevind het daar is unieke omstandighede wat teen die gemeenskap se verontwaardiging opgeweeg moet word en ‘n ligter vonnis regverdig.
Van Veenendaal het benadruk dat die hof met hierdie uitspraak nie enige norm wil skep ten opsigte van vonnisoplegging vir moord nie.
Adv David Molokomme het opgetree namens die staat.
Leana Augustyn het opgetree namens die Metz-broers en hul ma.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za