Vrystaatse plaasaanval: Voormalige werker more in hof verwag

'n Man wat voorheen op 'n plaas gewerk het waar 'n bejaarde egpaar en hulle dogter aangeval is, het homself oorgegee aan polisie.

‘n 48-Jarige man is gister deur die Buffelshoek-polisie in hegtenis geneem in verband met ‘n aanval Sondagoggend op ‘n egpaar op ‘n plaas sowat 8km buite Parys langs die R500 (Parys/Potchefstroom-pad).

Volgens Parys Gazette sal die man more in die Potchefstroomse landdroshof verskyn op klagte van huisroof, het polisiewoordvoerder Kolonel Adéle Myburgh bevestig.

Myburgh sê die man het homself by die Parys-polisiestasie oorgegee. Hy het voorheen op die plaas gewerk.

Die egpaar se aanvaller het Sondag te voet toegang tot die plaas verkry en weggekruip in ‘n stoorkamer langs die huis. Daar het hy die 68-jarige vrou oorval toe sy na die stoor is om ‘n seil vir haar dogter te gaan haal. Sy is met ‘n skerp ystervoorwerp wat haar aanvaller vermoedelik in die stoor gekry het, oor die kop geslaan.

Een van die egpaar se dogters wat ook op die plaas bly, het haar ma hoor skree en is na die stoorkamer. Sy het tussen haar ma en die aanvaller inbeweeg en gesmeek dat hy moet vat wat hy soek en hulle moet uitlos.

Die man het ma en dogter in die stoorkamer toegesluit en is na die huis waar hy die egpaar se bakkie se sleutels gevat het. Terwyl hy in die huis was, is hy deur die vrou se 70-jarige man naby die kombuis betrap waar hy by die sleutelhakkies doenig was. Met dié het die verdagte dieselfde skerp ystervoorwerp gebruik om ook die man aan te rand, en het homself toe uit die voete gemaak in die egpaar se bakkie.

Die vrou en dogter wat in die stoorkamer toegesluit was, kon by ‘n ander deur van die stoor uitkom, en het die beseerde man in die huis gekry. Die dogter het met haar ouers na die R500 gejaag waar sy die nooddienste langs die pad ontmoet het.

Intussen het die vrou se ander dogter, wat naby haar ouers woon en onbewus was van die drama wat hom tussen 07:30 en 08:00 hier afgespeel het, ook op die plaas aangekom om die seil te kom haal.

Volgens Annika Liebenberg, wat naby die egpaar woon, het bure onmiddellik reageer op die vrou se hulpkreet op die Vaalrivier Rooikat-noodgroep. Terwyl hulle na die plaas was om hulp te verleen, het Calvin Faber (en van die ander bure) gehelp om nooddienste te aktiveer en te soek na die egpaar se dubbelkajuit Toyota Hilux bakkie.

‘n Halfuur na die aanval is die boodskap op die noodgroep ontvang dat die voertuig verlate langs die Weiveldpad gekry is.

Die vrou moes steke in haar gesig en op haar kop kry en is reeds Sondag ontslaan. Die man is in die hospitaal opgeneem vir behandeling en observasie, maar is gister ontslaan.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.
Back to top button