Seun (3) se ouers en 2 maande oue boetie sterf in ongeluk op N4 naby Middelburg
Zaiden van Dyk se ma, pa en twee maande oue boetie is oorlede nadat 'n bakkie glo in aankomende verkeer sy gesin se Isuzu getref het.
’n Driejarige seun is die enigste oorlewende van ’n gesin nadat sy pa, ma en twee maande oue boetie gister in ’n ongeluk gesterf het.
Volgens Middelburg Observer het noodwerkers ure op die toneel spandeer waar die jong Van Dyk-egpaar en hulle babaseun op die N4 naby die Woestalleen-afrit gesterf het.
Sybrand (28) en Clarissa van Dyk (23) en hulle babaseun, Hendré, is op die toneel dood. Hulle vriendin, Spring van den Berg, het agter Sybrand gesit in die bakkie en het ’n kopbesering opgedoen. Hulle driejarige seun, Zaiden, was saam met sy ouma, Wilma van Dyk, in die voertuig wat voor hulle gery het, toe die ongeluk gebeur het. Wilma het die ongeluk in haar truspieël sien gebeur.
Die Van Dyks was vanaf Carolina in ’n blou Isuzu bakkie na eMalahleni onderweg.

Daar word verneem dat ’n silwerkleurige bakkie, wat in Belfast se rigting op pad was, beheer verloor en oor die middelman gery het. Dié bakkie het, volgens inligting, ‘deur die lug gevlieg’ in die aankomende verkeer in en die Van Dyks se Isuzu getref.
Die silwer bakkie het op sy kant in die pad tot stilstand gekom en die Van Dyks se bakkie is die veld in geslinger. Al drie is op die toneel dood verklaar. Van den Berg is per ambulans na die King Nyabela-hospitaal in Middelburg afgevoer. Haar man, Jacques, het vanoggend gesê dat sy steeds in die hospitaal is waar bepaal is dat sy ’n kraak in haar skedel opgedoen het.
Sybrand se pa, Brand, het kort ná die ongeluk op sy WhatsApp-storie geskryf: “Hoe sê ’n pa totsiens my seun en dogter. Ons gaan julle so baie mis. Rus in vrede.”
Familie het die Van Dyk-egpaar as ’n liefdevolle paartjie beskryf, wat baie geheg was aan mekaar en hulle twee seuns.
Die egpaar word oorleef deur Zaiden, Sybrand se pa en ma, Brand en Wilma, en Clarissa se pa, Deon Slabbert. Sybrand het vir Deon gewerk.
- Daar sal eers begrafnisreëlings getref kan word ná die Middelburg Forensiese Patologiedienste die lykskouings afgehandel het.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za