Vermoorde eMalahleni-man se ma aan beskuldigde: God slaap nie!
Willie Visser se ma het in trane uitgebars toe Melissa Vice, wat van haar seun se moord beskuldig word, se borgtogaansoek goedgekeur is.
Die vrou wat verdink word van moord op haar swaer, is deur die die Witbank-landdroshof borg toegestaan.
Volgens Witbank Nuus het die 29-jarige Melissa Vice huilend na die aanhoudingselle afgestap nadat borg van R10 000 toegestaan is terwyl Willie Visser se ma agter in die hof in trane uitgebars het.
Vice word daarvan verdink dat sy vir Visser op 16 Desember vermoor het.
Ontken aandeel in moord
Haar regsverteenwoordiger, Koos Harmse, het tydens die borgaansoek gesê Vice ontken enige aandeel in die moord.
Hy het ook genoem dat hy die verklaring wat Vice kort ná haar inhegtenisname gemaak het, dispuut omdat sy nie kans gegun was om te verduidelik wat gebeur het nie.
In ’n verklaring wat Harmse voorgelees het ter verduideliking van die gebeure volgens Vice, het Visser haar glo getreiter en gedreig vir seksuele gunste.
Sy het ontken dat sy seks met Visser gehad het.
Die staat het in ’n poging om die borgaansoek teen te staan, ’n verklaring wat deur die ondersoekbeampte gemaak is, voorgelees.
‘Oorledene se hande vasgemaak onder die voorwendsel van seks’
Die hof het gehoor hoe Vice vir Visser op 16 Desember by die Reynorif-winkelkompleks opgetel het.
Volgens die ondersoekbeampte het sy en Visser vir ’n ruk op en af in Hoëveldpark rondgery en toe in Seekoeiwater naby die substasie gestop.
“Die beskuldigde het onder die voorwendsel van seks die oorledene se hande vasgemaak, agter in die bakkie ingeklim en toe haar serp geneem en eers oor sy lyf gevryf. Sy het die serp toe om sy nek gesit en hom verwurg tot hy ophou beweeg het,” is aan die hof voorgelees.
Die staat het ook gesê toe Visser begin beweeg het, is hy met ’n mes aangerand.
“Sy het uitgeklim en hom uit die bakkie uitgetrek en sy liggaam ’n ent in die veld ingesleep.”
Die staat het ook genoem dat Visser se persoonlike besittings in die veld weggegooi is.
Tydens ’n soektog later die aand het Vice glo gehelp soek na hom.
Selfoon glo in kerk weggesteek
Die mes het sy glo by hulle huis gaan wegsteek en Visser se selfoon in die kerk waar sy die sekretaresse was.
Sy het nadat sy in hegtenis geneem is, vir die polisie uitgewys waar Vice se persoonlike besittings gegooi was.
Die staat het genoem dat Vice aan die polisie genoem het dat sy sal selfmoord pleeg.
Harmse het gesê sy het aangedui sy was voorheen met tye depressief, maar is nie in staat om selfmoord te pleeg nie.
Visser se ma, Kariena, was baie ontsteld toe borg toegestaan is en het gesê: “God slaap nie!”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za