Bekende Kokkedoor-deelnemer vermis nadat voertuig glo in Mpumalanga gekaap is

Die polisie se soektog na Marlothpark-inwoner Mariana Kotze, ’n voormalige deelnemer aan 'Kokkedoor', het nog geen vrugte afgewerp nie.

Mariana Kotze, ’n voormalige deelnemer aan die gewilde kykNET-kookprogram Kokkedoor, word sedert gister vermis. Dit volg nadat haar voertuig glo by die Nkomazi-tolhek in Mpumalanga gekaap is.

Laevelder is aanvanklik deur die polisie instruksie gegee om geen inlgting oor haar verdwyning bekend te maak nie, maar ten spyte hiervan het berigte en plasings daaroor soos ‘n veldbrand op sosiale media begin versprei en groot kommer onder die gemeenskap ontketen.

Luitenant‐Kolonel Jabu Ndubane, die provinsiale polisiewoordvoerder, het verduidelik dat die versoek om beriggewing te staak verband hou met onderhandelinge wat reeds met die vermeende ontvoerders aan die gang was en op daardie stadium as uiters sensitief beskou is.

Kotze en voertuig steeds soek

Sy het egter vanoggend bevestig dat dit nog geen vrugte afgewerp het nie, en dat Kotze en haar voertuig steeds vermis is. ‘n Formele ondersoek duur voort. Sy het beklemtoon dat alle beskikbare hulpbronne ingespan word om Kotze op te spoor.

Luidens onbevestigde inligting wat op sosiale media versprei is, het die voorval plaasgevind toe Mariana op pad was na Komatipoort om inkopies te doen. Ndubane het egter aan Laevelder bevestig dat sy naby die tolhek vermis geraak het.

Mariana en haar man, Boland, is inwoners van die bekende vakansiedorp en natuurreservaat, Marlothpark, waar hulle bekend is vir hulle betrokkenheid by die gemeenskap. Boland het by navraag versoek om nie kommentaar te lewer nie, maar bure en vriende het hulle skok en kommer uitgespreek.

Kotze, oorspronklik van Standerton, het in 2019 aan seisoen 3 van Kokkedoor deelgeneem en het destyds bekendheid verwerf vir haar kreatiewe benadering tot tradisionele Suid-Afrikaanse disse. ‘n Mede deelnemer en bekende Laevelder, Pieter Malan, het haar met groot deernis as ‘’n regte Afrikaanse ouma’ beskryf.

Die polisie doen ’n beroep op die publiek om waaksaam te wees en enige inligting wat kan help om haar op te spoor, onmiddellik deur te gee. Enigiemand wat haar gesien het of oor leidrade beskik, kan die polisie by 08600 10111 bel, of direk met Boland by 082 387 6518 in verbinding tree.

*Hierdie artikel is ná publisering gewysig. Laevelder het die provinsiale polisiewoordvoerder, Luitenant‐Kolonel Jabu Ndubane, se bevestiging van die plek waar Mariana Kotze vermis geraak het, bygevoeg.


Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Gia Radnai & Stefan de Villiers

Hierdie berig is geskryf deur joernaliste van Laevelder.
Back to top button