Khoisan-hoof skuldig aan aanranding van fietsryers in Papiesdorp

'n Tradisionele leier het fietsryers in die Oos-Kaap aangerand nadat hulle glo oor 'heilige' grond gery het.

Wayne Pietersen (47), ‘n tradisionele San- en Khoi-leier asook raadslid by die Kouga Plaaslike Munisipaliteit, is onlangs in die Humansdorp-landdroshof skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Volgens die Graaff-Reinet Advertiser het Pietersen twee fietsryers op 29 Junie 2024 in Papiesfontein in die Sarah Baartman-distrik aangerand.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die skuldigbevinding verwelkom. Luxolo Tyali, die NVG-streekswoordvoerder vir die Oos-Kaapse afdeling, het in ‘n verklaring gesê getuienis het in die hof onder eed verklaar dat Pietersen die twee fietsryers gekonfronteer het nadat hy hulle glo met ’n BMW-SUV van die pad afgedwing het. 

Hy het beweer dat die fietsryers op ‘heilige’ grond gery het waarop sy voorvaders se grafte geleë is.

Die Khoi-gemeenskap beset ook die gebied.

Volgens die staat het Pietersen een van die klaers aan die arm gegryp met die doel om ’n burgerlike arrestasie uit te voer. 

Daarna het hy homself glo met ’n knopkierie bewapen en ’n tweede klaer gekonfronteer, wat beseer is toe hy van sy fiets afgeval het.

Staatsaanklaer Siyabulela Swartbooi het getuienis aangebied en ook ’n J88-mediese regsverslag as deel van die staat se saak voorgelê.

Pietersen het die aantygings ontken en aangevoer dat die voorval verband hou met ’n voortdurende grondgeskil waarby lede van die Khoisan-gemeenskap betrokke is. 

Hy het gesê sy optrede is gemotiveer deur kommer oor beweerde onwettige toegang tot die eiendom.

Die hof het egter sy weergawe verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.

Die hof het ook Pietersen se ontwrigtende gedrag en uitbarstings tydens die verrigtinge gekritiseer en beklemtoon dat die hof nie ’n platform vir onverwante griewe is nie. 

Ná sy skuldigbevinding, en voor vonnisoplegging, het hy glo weer oproerig opgetree nadat hy die hof se bevindinge nie aanvaar het nie.

Die saak is tot Dinsdag (2 Junie) uitgestel nadat Pietersen ’n prokureur op rekord geplaas het.

Die NVG het beklemtoon dat geen persoon, ongeag hul posisie of status, die reg in eie hande mag neem, lede van die publiek onwettig mag aanhou of aanrand in die naam van kulturele eise of beweerde regte nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Teresa Opperman

Die berig is deur ’n joernalis van Graaff-Reinet Advertiser.
Back to top button