Krugerwildtuin-moord: 2 in Mosambiekse hof ná egpaar se bakkie gevind is
’n Oorgrensoperasie het gelei tot die inhegtenisname van twee verdagtes wat betrek word in die moord op Ernst (71) en Dina (73) Marais.
Twee verdagtes is die afgelope week in Mosambiek in hegtenis geneem in verband met die moord op Ernst (71) en Dina (73) Marais wat sowat twee weke gelede in die Krugerwildtuin vermoor is.
Hulle sou na verwagtig vroeër vandag in die hof in Maputo verskyn het.
Die verdagtes staan tereg op twee aanklagtes van moord en kaping. Ander klagtes kan bygevoeg word soos die ondersoek voortduur.
Volgens Laevelder, het Limpopo-polisiewoordvoerder Brigadier Hlulani Mashaba die inhegtenisname bevestig “Die Mosambiekse burgers, onderskeidelik 32 en 33 jaar oud, word positief met die misdaad verbind.”
Die egpaar se gesteelde voertuig, ’n Ford Ranger-dubbelkajuit, is verlede Dinsdag (26 Mei) in Chókwè, Mosambiek, teruggevind.
Die eerste verdagte is Maandag (1 Junie) in Chókwè en die tweede gister (2 Junie) in Xai-Xai in hegtenis geneem.
Die Minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, Willie Aucamp, het in ’n sterk bewoorde verklaring gesê dat hulle die misdadigers sou vastrek. “Dit is presies wat gebeur het.”
Die deurbraak is die resultaat van uitgebreide samewerking tussen die SAPD, Mosambiekse wetstoepassingsowerhede, SANParke en ander rolspelers.
Die slagoffers is as vermis aangemeld nadat hulle vir die laaste keer op 20 Mei by die Pafuri Piekniekplek in die Krugerwildtuin gesien is. ’n Soektog is van stapel gestuur nadat hulle nie teruggekeer het nie.
’n Dag later is hulle liggame naby Crooks Corner, in die noordooste van die Krugerwildtuin, ontdek. Voorlopige ondersoeke het getoon dat albei slagoffers veelvuldige steekwonde opgedoen het.
Intussen het Aucamp gesê dat Suid-Afrika nou met die formele uitleweringsproses begin om die verdagtes na die land te bring.
“Ek het met my kollegas in die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en Justisie geskakel en die belangrikheid om die verdagtes na Suid-Afrika te bring op hul harte gedruk. Hulle moet die volle mag van die wet in die gesig staar.”
Die polisiekommissaris in Limpopo, Luitenant-Generaal Thembi Hadebe, het die provinsiale ondersoekers en alle betrokke rolspelers geloof vir hulle toewyding en volgehoue werk.
“Die inhegtenisnemings is ’n belangrike mylpaal in die ondersoek en toon die doeltreffendheid van oorgrenssamewerking in die bekamping van ernstige en geweldsmisdaad. Ons spreek ons waardering uit teenoor die Mosambiekse wetstoepassingsowerhede, SANParke en alle rolspelers wie se pogings tot die deurbraak bygedra het,” het Hadebe gesê.
Mossel Bay Advertiser berig dat die paartjie se familie hoop dat geregtigheid sal seëvier.
Die Marais het ’n huis in Fynbos Heights in Mosselbaai besit en was geliefd onder die dorpenaars.
Volgens die koerant is die egpaar se gesteelde bakkie ook in die Xai-Xai-gebied gevind.
Die egpaar se begrafnis vind more (4 Junie ) om 11:00 in Krugersdorp plaas.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com