Springbok-legende ná gesondheidstryd oorlede

’n Haker, wat in verskeie toetse vir Suid-Afrika en die destydse Noord-Transvaal uitgedraf het, word onthou as  klein van postuur, maar wat op die rugbyveld die hart en durf van ’n leeu gehad het.

Piston van Wyk, een van die legendes van Noord-Transvaal en Springbok-rugby uit die laat 1960’s en vroeë 1970’s, is die afgelope naweek in die ouderdom van 82 oorlede.

Hy het die afgelope paar jaar met sy gesondheid gesukkel.

Van Wyk was in sy speeldae kleiner en ligter as wat die meeste internasionale agterspelers van vandag is, maar as rugbyspeler het hy die hart van ’n leeu gehad, berig Pretoria Rekord.

Piston van Wyk het was 26 jaar oud toe hy ‘n Springbok geword het.
Foto: Verskaf

Dié eienskap het hom ’n gedugte haker gemaak, wat in sy 15 toetste vir Suid-Afrika en 46 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal, menige teenstander laat besef het dat hy  vir niks en niemand stuit nie.

Van Wyk het in Johannesburg grootgeword, maar het, nadat hy gematrikuleer het, sy opleiding as vliegtuigwerktuigkundige by die Suid-Afrikaanse Lugmag ontvang.

Hy het vir die Weermag se klubrugbyspan uitgedraf en het ook naam in die Carltonbeker-toernooi gemaak.

Sy grootste teenstander was nog ’n rugby-legende, Gys Pitzer. Dié twee mededingers was die bron van baie staaltjies oor die goeie ou dae van klubrugby.

Sy Springbok-loopbaan het in 1970 begin met ’n toetsreeks teen die All Blacks.  Hy het in 1976 sy internasionale loopbaan teen die ou aartsvyand van die Springbokke afgesluit.  

Hy was ook ’n staatmaker teen die beroemde Britse Leeus van 1974.

Hy het ’n noue band met die voormalige Springbok-kaptein en vaskopstut, Hannes Marais, gehad en hulle het in 12 toetse langs mekaar in die Springboktrui geskrum.

Van Wyk, wat besonder sterk vir sy kleiner postuur was, het later vertel dat hy en Marais ’n tegniek ontwikkel het waarmee hulle menige teenstanders se voorrye verniel het.

Volgens hom het dít ook aanleiding gegee tot heelwat van die woeste gevegte waarvoor hy as vurige haker bekend was. 

Van Wyk word oorleef deur sy vrou, Rose, met wie hy langer as 60 jaar getroud was. Die egpaar het enkele jare gelede in Sabie in Mpumalanga afgetree.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Die berig is deur die sportredakteur van Pretoria Rekord geskryf.
Back to top button