Kyk: Wat is die Hartenbos-slotte se stories? 

Ná ’n leeftyd van vakansie-herinneringe het ’n gewilde oord in die Tuinroete besluit om tradisieryke slotte te verwyder. Is joune een van hulle?

Die bekende heining langs die Hartenbos Seefront, wat oor die jare met honderde slotte en ander persoonlike aandenkings bedek is, word nou van dié herinneringe gestroop, berig Mosselbay Advertiser.

Hartenbos Seefront het begin om die slotte stelselmatig te verwyder nadat roes en die gewig daarvan skade aan die heining veroorsaak het, wat volgens die bestuur ook ’n veiligheidsrisiko ingehou het.

Vir inwoners en vakansiegangers het die heining oor die jare ’n besondere plek geword waar mense hul liefde, herinneringe en spesiale oomblikke verewig het.

Van paartjies wat hul voorletters en ’n datum op ’n slot aangebring het tot families wat hul name saam daarop aangebring het, vertel elkeen ’n klein stukkie van iemand se verhaal.

Selfs meer ongewone aandenkings het hul plek aan die heining gevind, waaronder ’n houtlepel met die inskripsie ‘2026’ en ‘E + J + H + Z + B + J’.

So word geliefdes onthou. Foto: Linzetta Calitz

Dit laat ’n mens wonder wat hierdie ses mense se verbintenis is? Dalk niggies en nefies wat almal siepsop-en-braaiboud met die houtlepel gekry het, ’n groep met ’n voorliefde vir kook, of bloot andersdenkende mense?

Die betekenis daaragter bly ’n raaisel, maar dit is juis dié persoonlike boodskappe wat die heining oor die jare sy unieke karakter gegee het.

’n Moeilike besluit

Hartenbos Seefront het op 21 Augustus op sy Facebook-blad verduidelik waarom die slotte verwyder word.

“Elke slot wat aan ons heining gehang is, het ’n storie vertel – van liefde, herinnering en spesiale oomblikke wat mense hier wou verewig,” het die organisasie gesê.

Volgens Hartenbos Seefront het die slotte mettertyd begin roes en hul gewig het die heining beskadig. Die nodige herstelwerk kos ook duisende rande.

“Ons moes dus die moeilike besluit neem om die slotte te verwyder – nie omdat ons die gebaar minder ag nie, maar omdat ons die veiligheid en volhoubaarheid van ons fasiliteite moet beskerm,” lui die verklaring.

Wie is Derich en Carie? Foto: Linzetta Calitz

Die organisasie sê inwoners en besoekers wat hul slot wil terughê, kan dit by die fasiliteitsbestuurder gaan afhaal.

Deel jou slotstorie

Hoewel die fisieke aandenkings verdwyn, wil Hartenbos Seefront hê die stories daaragter moet behoue bly.

“Ons sê opreg dankie vir die liefde en gedagtes wat u hier gelaat het. Hartenbos Seefront bly ’n plek waar herinneringe gemaak en gekoester word,” het die organisasie gesê.

Het jy ’n slot aan die Hartenbos-heining gehang? Deel jou unieke slotstorie met Mosselbay Advertiser.

Kyk hier na die video:

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Linzetta Calitz

Die berig is deur 'n joernalis van die Mosselbay Adveriser geskryf.
Back to top button