Brakpan-man koelbloedig in sy voertuig geskiet
’n Gesinsman van die Oos-Rand is vroeër die week dood in sy BMW gevind nadat hy verskeie kere in die nek, bolyf en bobeen geskiet is.
Die familie van ’n 37-jarige man wat Maandagaand (5 Oktober) koelbloedig in Brakpan doodgeskiet is, worstel nie net met die trauma en skok oor sy dood nie, maar ook met talle onbeantwoorde vrae, berig Brakpan Herald.
Gerhardt Swiegers, wat daardie aand in sy silwer BMW naby die hoek van Stoffberg- en Muirlaan gesit het, is dood toe ’n persoon of persone hom verskeie kere geskiet het.
Volgens sy sy ouers Johan (60) en Susan (58) Swiegers het die voorval tussen 19:00 en 20:00 plaasgevind het. Sy BMW was op ’n sypaadjie voor ’n huis geparkeer. Hy het agter die stuurwiel gesit toe hy geskiet is.
Die voorval het om die hoek van sy ouerhuis, waar hy die afgelope tyd gewoon het, plaasgevind.
Gerhardt se jonger broer, Juan (33), wat op ’n naburige dorp woon, het dieselfde aand ’n oproep ontvang waarin hy oor sy broer se dood ingelig is.
“Ek het omiddellik na hulle huis in Brakpan gery,’’ het Juan vertel.
Johan was egter vinniger op die toneel, maar die paramedici het toe reeds vir Gerhard dood verklaar.
“Ek kon sien dat daar skote aan sy bolyf, nek en been was,” het Johan gesê.
Volgens sy familie was Gerhard ’n goeie mens wat baie geheg aan sy vyfjarige dogtertjie, Anastasia, was.
“Gerhard en die ma van sy kind, Mickaela Holtshausen, was vervreem, maar was op goeie voet. Mickaela het gereeld by ons gekuier.
“Hy het Sondagaand nog ’n video gemaak waar hy en die kleintjie saam op die gelê en gebid het,’’ het Johan hartseer vertel.
Volgens Susan het Gerhardt in Brakpan grootgeword waar hy ook skool gegaan het.
“Hy het die buitelewe geniet en daarvan gehou om nou en dan vis te vang.”
Hy het ten tye van sy dood by RGM Cranes in Apex gewerk.
“Ons het soveel vrae en kan nou net hoop dat geregtigheid sy gang sal gaan,” het Susan gesê.
“Die persoon of persone wat verantwoordelik is vir my kind se dood moet die gevolge daarvan dra,” het sy bygevoeg.
Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek en enigiemand met inligting kan die polisiekantoor by 011 744 4111 kontak.
Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za