Pa van jong kind in sy voertuig dood geskiet
Gerhardt Swiegers se ouers en broer hoop dat die persoon of persone wat vir sy dood verantwoordelik is aangekeer sal word end at geregtiheid sal geskied.
Gesinslede en familie van ’n 37-jarige man wat Maandagaand koelbloedig in Stoffberglaan vermoor is, worstel nie net met skok nie, maar ook met baie onbeantwoorde vrae oor sy dood.
Gerhardt Swiegers, wat Maandagaand in sy silwer BMW naby die hoek van Stoffberg- en Muirlaan gesit het, is dood toe ’n persoon of persone hom verskeie kere raakgeskiet het.
Die voorval sou volgens sy ouers, Johan (60) en Susan (58) Swiegers, tussen 19:00 en 20:00 plaasgevind het.
Die plek waar hy met verskeie skote afgemaai is, is net om die hoek van sy ouerhuis, waar hy die afgelope tyd gewoon het.
Gerhardt se jonger broer, Juan (33), wat in ’n naburige dorp woon, het Maandagaand ’n oproep ontvang wat hom meegedeel het dat sy broer geskiet is.
“Daar het nog oproepe gevolg, ook na my ouers, en ek het dadelik van my blyplek na Brakpan gery.

Johan was egter vinniger op die toneel, maar sy seun was reeds deur paramedici dood verklaar.
“Ek kon sien dat daar skote aan sy bolyf, nek en been was,” het Johan Dinsdag aan die Herald gesê.
Volgens sy ouers was Gerhardt se BMW op ’n sypaadjie voor ’n huis geparkeer. Hy was agter die stuurwiel toe hy geskiet is.
Sy ouers en broer het Dinsdag vertel dat hy ‘n goeie mens was, wat baie geheg was aan sy vyfjarige dogtertjie, Anastasia.
“Hy en haar ma, Mickaela Holtshausen, was vervreem, maar op goeie voet en Mickaela het vanaf verlede Woensdag by ons gekuier.
“Hy het Sondagaand nog ’n video gemaak waar hy en die kleintjie saam op die bed lê en bid,” het ’n hartseer Susan vertel.
OOK LEES: Frustration mounts as sentencing is delayed in Malcolm Booysen case
“Ons het Mickaela gereeld aan huis gehad en hy sou berge versit vir sy kind,” het sy bygevoeg.
Volgens Susan het Gerhardt in Brakpan groot geword waar hy ook skool gegaan het.
“Hy het die buitelewe geniet en daarvan gehou om nou en dan vis te vang.”
Hy was ten tye van sy dood werksaam by RGM Cranes in Apex.
“Ons het soveel vrae en kan nou net hoop dat geregtigheid sy gang sal gaan,” het Susan gesê.
“Die persoon of persone wat verantwoordelik is vir my kind se dood moet die gevolge daarvan dra,” het sy bygevoeg.
Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek en enigiemand met inligting kan die polisiestasie kontak by 011 744 4111.
Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.
OOK LEES: Letter: Ekurhuleni murders highlight daily safety concerns of South African women



