8-jarige van Oudtshoorn sterf binne ure aan breinvliesontsteking
Gesondheidsowerhede maan tot waaksaamheid nadat 65 gevalle van indringende meningokokkale siekte reeds landwyd in die eerste helfte van die jaar aangemeld is.
“Daar is nie genoeg woorde om die ongelooflike mens wat Aidan was, te beskryf nie.”
Só onthou Nadia Westraad haar agtjarige seuntjie, wat Sondag (1 November) onverwags aan breinvliesontseking oorlede is nadat sy toestand binne ‘n kort tydjie dramaties versleg het, berig die Oudsthoorn Courant.
Aidan was ‘n graad 2-leerder aan Laerskool Laurus. Sy ma onthou hom as ’n liefdevolle seuntjie met besondere empatie, wat alles wat hy aangepak het, met sy hele hart gedoen het.
“Hy het die mooiste omgee-hart gehad en almal met soveel respek behandel. Hy het alles met oorgawe aangepak. As hy iets gedoen het, het ek geweet hy gee 100%. Wanneer hy op die sokkerveld gestap het, het ek geweet sy hele hart is in daardie wedstryd.
“Dit was ook die tipe ouboet wat hy was. Hy en sy sussie, Ava, was onafskeidbaar.”
Die verlies is vir die gesin des te moeiliker omdat Aidan se laaste dae aanvanklik heel normaal verloop het.
Volgens Nadia het hy Vrydag nog vrolik saam met sy maatjies gespeel en het hy gesond voorgekom.
“Sy neus het wel geloop, maar ons het dit aan sinus toegeskryf omdat die jakarandas voor die huis blom. Saterdag was ons buite die dorp om saam met die kinders te gaan swem. Ons het ook sy hare laat sny. Toe ons daar uitloop, was hy effens van balans af en het gesê hy voel regtig nie lekker nie. Ek het vir hom koorsmedikasie gegee.”
In die vroeë oggendure van Sondag het sy toestand egter skielik versleg.
“Omstreeks 03:00 het ons hom na die ongevalle-afdeling geneem nadat hy na my toe gekom en gesê het hy voel nie lekker nie. Daar was toe reeds ‘n uitslag oor sy hele lyf. Hy is van die Oudtshoorn-hospitaal na die George-hospitaal oorgeplaas. Sy toestand het daar verder versleg, ondanks alles wat die dokters probeer doen het.”
Nadia sê sy wil veral hê dat ander ouers bewus moet wees van hoe vinnig die siekte kan ontwikkel.
“Dit kom regtig soos ‘n dief in die nag en gee jou nie tyd nie. Dit versprei só vinnig deur jou liggaam.”
Aidan se troosdiens vind môre (7 November) om 10:30 vir 11:00 by die Helende Woord Bediening in Jonesstraat 3 plaas.
‘n Gemeenskap treur saam
Laerskool Laurus het Maandag (4 November) sy diepe hartseer oor Aidan se afsterwe uitgespreek en sy medelye met die familie betuig.
“Dit is moeilik om die regte woorde te vind wanneer ‘n jong lewe so onverwags en vroeg van ons weggeneem word. Aidan was ‘n sprankelende seuntjie met die mooiste persoonlikheid. Hy was deel van ons Laurus-familie, en sy plekkie in ons skoolgemeenskap sal altyd onthou word.”
Volgens S.W. Vorster, skoolhoof van Laerskool Laurus, het die skool se bestuur onmiddellik opgetree nadat hulle van Aidan se afsterwe verneem het.
“Juf. Marelize Janse van Vuuren, die hoof van die voorskoolsentrum, en haar man, Gerrit, die adjunkhoof van die skool, was saam met die familie by die George-hospitaal. Al die nodige departemente is ook in kennis gestel. Ons het antibiotika ontvang wat aan leerders, ouers en onderwysers gegee is wat met hom in aanraking was.”
Vorster doen ‘n beroep op ouers wie se kinders nog nie teen meningokokkale meningitis ingeënt is nie, om hul huisdokter oor beskikbare entstowwe en toepaslike voorkomende maatreëls te raadpleeg.
“Dit is belangrik dat ons elke moontlike voorsorgmaatreël oorweeg en verantwoordelik optree.”
Breinvliesontsteking kom landwyd voor
Aidan se dood kom te midde van bevestigde gevalle van meningokokkale siekte elders in Suid-Afrika.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) se verslag oor die eerste twee kwartale van 2026 is 65 gevalle van indringende meningokokkale siekte landwyd aangeteken.
Die verslag toon dat serogroep B die algemeenste was, gevolg deur serogroepe W en Y. Die NICD het egter gewaarsku dat die getalle relatief klein is en dat die bevindinge versigtig geïnterpreteer moet word.
Die aantal aangetekende gevalle het ook die afgelope jare toegeneem. Volgens die NICD se 2024 GERMS-SA-jaarverslag is 150 laboratoriumbevestigde gevalle van indringende meningokokkale siekte in 2024 aangeteken, ‘n toename van 40% teenoor die 107 gevalle in 2023.
Meer as die helfte van die gevalle in 2024 het kinders jonger as 15 jaar betrek. Die Wes-Kaap het die hoogste voorkoms van die siekte per 100 000 mense aangeteken.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het tussen 1 Januarie en 22 Februarie altesaam 11 bevestigde gevalle, waaronder een sterfte, aangemeld. Agt gevalle is in die Kaapstad-metro, twee in Kaapse Wynland en een in die Overberg aangeteken. Die departement het beklemtoon dat dit sporadiese gevalle was en nie ‘n uitbreking verteenwoordig het nie.
In ‘n afsonderlike voorval is vyf gevalle van serogroep C in ‘n Wes-Kaapse gemeenskap tussen Julie en November 2025 aangeteken. Die pasiënte was tussen twee en 26 jaar oud. Drie van hulle het dieselfde laerskool bygewoon.
Volgens ‘n wetenskaplike verslag oor die voorval is voorkomende antibiotika aan noue kontakte gegee. Die maatreëls is later uitgebrei na 565 grondslagfaseleerders en 48 personeellede. Geen sterftes is in dié groep aangeteken nie.
Wees bedag op die waarskuwingstekens
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is geen ander gevalle van breinvliesontsteking in Oudtshoorn aangemeld nie.
Sy sê die algemene waarskuwingstekens sluit skielike griepagtige simptome in, soos koors, erge hoofpyn, naarheid en braking. Ander simptome kan nekstyfheid, sensitiwiteit vir lig en ‘n uitslag met klein, donkerrooi verkleurings op die liggaam insluit.
Soos met enige aanmeldbare siekte word mense wat noue kontak met Aidan gehad het, opgespoor en toepaslike behandeling word aan hulle gebied.
“Meningitis is ‘n ernstige siekte wat lewensgevaarlik kan wees. Ouers word versoek om onmiddellik mediese hulp by hul naaste kliniek, dokter of hospitaal te kry indien hulle of hul kinders enige van hierdie simptome ontwikkel.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com