Wen kaartjies na Oskar en die pienk tannie
Wen 'n stel dubbelkaartjies om Sandra Prinsloo se nuwe teaterstuk te gaan kyk by die Barnyard-teater, Parkview.
“Elke nou en dan, min of meer een maal per jaar, is daar ‘n teaterstuk wat jy nie durf misloop nie. Die soort teaterbelewenis wat by jou steelkant verbyglip en jou vinnig twee keer laat kyk. Wat jou oorrompel met ‘n verpletterende besef van die broosheid en vlugtigheid van die lewe. Wat sorg vir ‘theatre magic’, losweg vertaalbaar as hoendervleis. So ‘n stuk is Oskar en die pienk tannie,” meen Deborah Steinmair.
Sy sê Sandra Prinsloo het ophou draf en is nou op ‘n galop. “Eers was daar Die Naaimasjien wat gehore landwyd (sowel as in Edinburgh) weerloos gelaat het, nou is Oskar op almal se lippe, die kaartjies is oraloor uitverkoop.”
Oskar en die pienk tannie is deur die KKNK vereer met drie Kannas: beste teaterproduksie; beste regie (Lara Bye) en beste aktrise (Sandra Prinsloo).
Die stuk deur Eric-Emmanuel Schmitt is deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal en Steinmair sê die teks is “verruklik: terloops hartseer en terloops snaaks”. Prinsloo speel teen die sentiment, trap liggies oor versengende hartseer, raak vlugtig aan paradigmaverskuiwende insigte, streel ingedagte oor absurditeite. Dis haar tydloosheid wat opval: die varsheid van haar skeppende genialiteit wat grense, geslagte en generasies oorbrug.
Prinsloo vertolk die rol van ‘n tienjarige seuntjie wat terminaal siek is. En dié van ‘n ouma en ‘n paar ander karaktertjies in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan ‘n reeks karakters wat bybly. Op die verhoog is ‘n enkele tafel: die sterwende Oskar se hospitaalbed. Wees gewaarsku, dis sneesdoekie-gebied. ‘n Mens se wange word vroeg al nat.
Oskar gooi ‘n houtoog oor grootmense, die liefde, hormone, God en die dood. Oskar het kanker en sy operasie was onsuksesvol. Iets waarvoor hy homself blameer, soos kinders doen. Sy reddingsboei is Ouma Rosa, ‘n bejaarde vrou wat elke dag die kinderhospitaal besoek. Sy is wys en pittig.
Om hom te vermaak, versin sy staaltjies oor haar dae as rofstoeier, die wildewoeste Weskus-wonder. Sy beskik oor morele dapperheid en lieg nie vir die kind nie. Sy beveel hom om elke dag te leef asof dit tien jaar is. Op dié manier kan hy tot op die rype ouderdom van 120 leef.
Sy raai hom ook aan om elke dag vir God ‘n brief te skryf en ‘n wens te wens: “Liewe God, my naam is Oskar, ek is 10-jaar oud, ek het die kat en die hond en die huis aan die brand gesteek en dis die eerste brief wat ek aan jou stuur, want ek het nie voorheen tyd gehad nie. Ek moes leer.”
Oskar en die pienk tannie is te sien by die Musiekskuur van die Barnyard-teater in Parkview 12-13 Junie 2015.
Vir meer inligting of om kaartjies te bespreek, gaan na www.barnyardtheatre.co.za.
KOMPETISIE: Staan die kans om dubbel-kaartjies vir Oskar en die pienk tannie te wen. SMS die woord OSKAR en jou naam en van na 42282. Die kompetisie sluit Woensdag 10 Junie 2015 om middernag. SMS’e kos R1.50. Gratis SMS’e geld nie.
Lees ook:
Treurgrond oortref verwagtinge
INTERNATIONAL NEWS: Bruce Jenner finally introduces Caitlyn
Groot nuus vir Karlien van Jaarsveld
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.



