Lifestyle

Gebruik oogomlyner vir langer wimpers

As jy die ‘geen grimering’-voorkoms wil skep, is ’n bietjie oogomlyner en maskara jou beste opsie.

 

By die onlangse Met Gala was dramatiese oogomlyner ’n groot gunsteling en dit is ook ’n tendens wat nog lank in die mode gaan bly. Sterre soos Gigi Hadid, Kylie Jenner, Shakira, Amanda Seyfried en Demi Lovato se grimering en oogomlyner het perfek gelyk.

As jy die “geen grimering”-voorkoms wil skep, is ’n bietjie oogomlyner en maskara jou beste opsie. Of jy nou daarvan hou om ’n dunner lyn of die katoog-voorkoms bo jou wimpers te skep, kan dit help om die aandag op jou oë te fokus en dit groter te laat lyk. Skep ’n elegante voorkoms met oogomlyner (vir ’n aandjie uit of selfs vir ’n werksdag), en laat jou wimpers so langer lyk.

Corné Visser, grimeerkunstenaar vir Bobbi Brown, se raad

  • Wanneer jy oogomlyner aanwend, moet die lyn geleidelik dikker word van binne die oog na buite om ’n katoog-voorkoms te skep.
  • Maak seker daar is geen gapings tussen jou wimpers en die oogomlyner nie.
  • Gebruik ’n pikswart oogomlyner.
  • Rond die voorkoms af met swart maskara.

Kleur ook in tussen jou wimpers

  • Trek jou ooglid op deur jou vinger onder jou wimper te sit en dit dan op te trek.
  • As jy af kyk, sal dit help om die omlyner makliker aan te wend.
  • Gebruik ’n oogpotlood om tussen jou wimpers in te kleur (in die waterlyn van jou oë).
  • Maak seker dit is ’n waterdigte potlood (sodat dit nie jou oë brand as jy dalk ’n traan pik nie).
  • Maak seker die potlood is nie te skerp nie en ook nie te dik nie.

Om die oogomlyner-tegniek te bemeester, kom nie vir almal ewe natuurlik nie. Dit vat tyd, maar as jy dit eers onder die knie het kan jy daardie perfekte bokkie-oë maklik skep.

Lees ook: WEN ‘n L’Oréal Paris-geskenkpak ter waarde van meer as R1 000!

Die artikel Gebruik oogomlyner vir langer wimpers het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

 
Back to top button