Network Sport

1 400 teken petisie om ikoniese Pretoria-sportinstelling te red

'n Petisie is van stapel gestuur om die Tshwane-metro onder druk te plaas om 'n kennisgewing rakende Harlequins-sportklub terug te trek.

Talle ondersteuners en lede van die Harlequins-sportklub teken tans ’n petisie en berei hulle vir ’n byeenkoms voor op Saterdag om druk op die Tshwane-metro te plaas om die klub se sportgeriewe te beskerm.

Die voortbestaan van een van Pretoria se mees ikoniese sportinstellings is op die spel en die gemeenskap mobiliseer tans om die klub te red, berig Pretoria Rekord.

Petisie word geteken

Teen gister het meer as 1 400 ondersteuners en spelers binne 12 dae reeds ’n AfriForum-aanlynpetisie geteken wat die voortbestaan van die klub op sy huidige gronde in Pretoria-oos bepleit.

Die petisie sal tesame met ’n prokureursbrief aan die metro oorhandig word na die byeenkoms wat Saterdag plaasvind.

Ondersteuners berei hulle ook voor vir die massabyeenkoms en straatbraai op dieselfde dag om druk op die metro te plaas.

Die huidige krisis spruit uit ’n grondgebruiksgeskil.

Kennisgewing vanaf Tswhane-metro

Die metro voer in ’n afdwingingskennisgewing, gedateer 17 Maart, aan dat die eiendom waarop die klub is, is as landbougrond gesoneer en moet as sulks gebruik word en daarom moet al die geboue en geriewe daarop gesloop word.

Die kennisgewing is aan die Harlequins Rugbyklub-bestuur gerig en bepaal die klub het 28 dae om hulle geboue en strukture af te breek.

Die klub het egter reeds in 2021 aansoek gedoen om die sonering na sport- en ontspanningsdoeleindes te verander.

Byna vyf jaar later is die aansoek deur die klub steeds nie deur die metro afgehandel nie.

Die petisie is volgens AfriForum van stapel gestuur om die metro onder druk te plaas om die kennisgewing terug te trek en die hersoneringsproses dringend te finaliseer.

Doel van petisie

Die doel is ook volgens die petisie-organiseerders van AfriForum om die metro te herinner dat Harlequins nie net ’n privaat klub is nie, maar ’n historiese instelling wat gemeenskapsdienste lewer en sportontwikkeling vir jongmense ondersteun.

AfriForum-woordvoerder Maree van den Berg sê die burgerregte organisasie sal nie toelaat dat die versuim van administratiewe pligte deur die metro die sluiting van ’n klub wat sedert 1903 bestaan, tot gevolg het nie.

Hy sê die gemeenskap se reaksie is ‘reeds beduidend’ en dat hulle saam met ’n regspan besig is om die volgende stappe te oorweeg. Fondse is ook reeds vir regskoste ingesamel.

Harlequins-sportklub deur die jare

Die Harlequins-sportklub het oor meer as ’n eeu ’n spilpunt vir sportontwikkeling in Pretoria geword. Talle spelers, insluitend talle Springbokke, het hul loopbane op die klub se velde begin.

Vandag bied die klub talle ander geriewe en dien dit as ’n ontwikkelingsentrum vir jong atlete.

Raadslede gee hulle opinie

Vryheidsfront Plus-raadslid Grandi Theunissen sê: “Die metro se eis dat die klubterrein binne weke tot ’n oop erf terug verander moet word, maak geen sin nie.”

DA-burgemeesterskandidaat Cilliers Brink sê die metro se optrede wys ’n duidelike gebrek aan konsekwente bestuur en dat die stad se bywette afgedwing word sonder om eienaars in staat te stel om daaraan te voldoen.

Shaun Wilkinson, DA-raadslid vir Wyk 59, sê die energie waarmee die stad die landgebruik by Harlequins wil afdwing, moet ooreenstem met die doeltreffendheid van hul interne prosesse en dat ander oortredings in die stad lank geïgnoreer is.

Metro se terugvoer

Volgens metro-woordvoerder Lindela Mashigo is die vertraging rondom die soneringsaansoek hoofsaaklik te wyte aan hersiene voorleggings en die verfyning van die voorwaardes vir vestiging, ’n kritiese vereiste ingevolge die Landgebruikbestuursbywet van 2016.

Hy verduidelik die soneringsaansoek van die klub het 45 besware ontvang en moet nog deur die munisipale beplanningstribunaal oorweeg word.

Mashigo sê die amptenaar wat die aansoek hanteer, sê die aansoek is in die gevorderde stadium van die finale tribunaalverslag.

Hy sê verder die aansoek is geprioritiseer op Streek 3 se lys van tribunaalverslae wat dringend finalisering vereis en dat die beplanningsafdeling toegewyd is om alle aansoeke regverdig en wettig te administreer.

Hy voeg by dat die stad besef dat die vertraging frustrerend is en dat hulle aan interne verbeterings werk.

Duidelike boodskap word gestuur

Die geesdrif vir Saterdag se byeenkoms beliggaam ’n duidelike boodskap van die gemeenskap aan die metro, glo Van den Berg.

“Dit gaan nie net oor sport nie, maar oor gemeenskapsverantwoordelikheid en die beskerming van historiese instellings.”

Hy glo elke stem en elke handtekening op die petisie wys dat die gemeenskap nie hieroor gaan stilbly nie en dat Harlequins se tradisie as ’n ikoniese sportklub in Pretoria té belangrik vir inwoners is om te verloor.

Die klub het sowat 800 lede en bied jaarliks inkomste aan ongeveer tien persone, wat die moontlike sluiting nie net ’n sportkwessie nie, maar ook ’n saak van gemeenskapsbelang maak.

Vrae is aan die klubbestuur en aan die waarnemende burgermeesterkomiteelid vir die metro se Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Hannes Coetzee, gestel.

Die petisie is hier beskikbaar.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.

Related Articles

Back to top button